Die matriekklas van 2024 het geskiedenis gemaak met die meeste kandidate wat tot nog toe met universiteitsvrystelling geslaag het.
Die 87,3%-matriekslaagsyfer is ook die hoogste slaagsyfer in die land se geskiedenis, wat rede is vir groot feesviering, het Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, Maandag gesê toe sy die uitslae bekend gemaak het.

Al die provinsies se uitslae het verbeter vergeleke met 2023 en almal het 'n slaagsyfer van meer as 84% behaal.
Die Vrystaat se slaagsyfer is die beste op 91%, wat twee persentasiepunte beter is as in 2023. KwaZulu-Natal is tweede met 89,5%, Gauteng is derde met 88,4% en Noordwes vierde met 87,5%.
Vyfde is die Wes-Kaap met 'n slaagsyfer van 86,6%, gevolg deur Limpopo met 85,01%, Mpumalanga met 84,99%, die Oos-Kaap met 84,98% en die Noord-Kaap met 84,2%.
47,8% van die kandidate het met universiteitsvrystelling geslaag. Dit is 6,9 persentasiepunte meer as in 2023.
In 2014 was daar sowat 150 000 matrieks met universiteitsvrystelling; nou is dit meer as dubbel soveel op 337 000.
Gwarube het gesê die meeste leerlinge (84 000) wat met universiteitstoelating geslaag het, is van KwaZulu-Natal afkomstig.
Sy het gesê 'n gesonde skoolstelsel word nie net aan matriekuitslae gemeet nie, maar aan die gehalte en gelykheid van die onderrig wat beskikbaar is.
Onderwys is die hoeksteen van 'n demokratiese regering. Die hele gemeenskap moet egter saamwerk om die gehalte van onderwysuitkomste te verbeter. Dit is nie net die taak van die onderwysdepartement nie, volgens Gwarube.
Sy het gesê Suid-Afrika is grootliks suksesvol met die verbetering van toegang tot basiese onderrig. 98% van alle kinders van 7 tot 15 jaar oud is by skole ingeskryf.
Nou moet die fokus daarop wees om die gehalte van onderrig te verbeter.
"Leerlinge moet die skoolbanke verlaat met opleiding en 'n kwalifikasie wat hulle in staat stel om hoëronderwysopleiding te kan kry of om die werkmark te kan betree ten einde 'n menswaardige lewe te kan lei."
Skole is nie gemaklik daarmee om leerlinge deur te sit na hoër grade as hulle nie gaan presteer en die skool goed laat lyk nie.
Gwarube sê internasionale aanwysers moet gebruik word om die gehalte van skoolonderrig in Suid-Afrika te meet. Volgens die uitslae van die onlangse sistemiese evaluasie onderpresteer Suid-Afrikaanse leerlinge van gr. 5 tot 9 op internasionale vlak beduidend in wiskunde en wetenskap.
"Dit wys ook te veel van ons leerlinge in gr. 4 kan nie in enige taal met begrip lees nie."
Gwarube sê dit beteken, eenvoudig gestel, dat daar te veel leerlinge is wat deur die basiese onderrigstelsel vorder sonder om die basiese numeriese en geletterdheidsvaardighede te bemeester.
Dit is noodsaaklik om in sleutelvakke soos wiskunde en wetenskap te presteer en die nagevolge is dat al hoe minder leerlinge inskryf vir vakke soos wiskunde, wetenskap, rekeningkunde en ekonomie.
Gwarube het gesê sy en die onderwysdepartement gaan 'n dringende strategiese herbesinning hê oor die toekoms van die skoolstelsel om fondasie-onderrig te versterk.
Hubert Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het in 'n tegniese uiteensetting van die matriekuitslae gesê 'n groot probleem in die onderwysstelsel is die aantal leerlinge wat deur skole teruggehou word om grade te herhaal.
"Skole is nie gemaklik daarmee om leerlinge deur te sit na hoër grade as hulle nie gaan presteer en die skool goed laat lyk nie," het Mweli gesê.
Hy het gesê daar is 'n element van mededinging tussen skole en om dié rede word leerlinge teruggehou.
Daar is ook kommer oor die kleiner getal leerlinge wat wiskunde as vak neem. In 2024 het 12 000 minder leerlinge wiskunde geneem as in 2023.
Dié prentjie moet verander, sê Mweli. Hy het genoem dat pres. Cyril Ramaphosa ook sy kommer hieroor uitgespreek het toe die uitslae met hom bespreek is.
• 151 gevangenes het in 2024 matriek geslaag. 161 was ingeskryf, het Mweli gesê.
Dit is volgens hom 'n goeie toename teenoor die 137 gevangenes wat in 2023 matriek geslaag het.
Mweli sê hy weet die departement van korrektiewe dienste neem hierdie uitslae baie ernstig op en hy is seker hulle sal dié slaagsyfer vier.




















