Wes-Kaapse matrikulante beskryf die tweede geskiedenisvraestel wat hulle Woensdag afgelê het as billik, hoewel dit vir sommige moeiliker as die eerste vraestel was.
Eljanay Davids van die De Kruine Sekondêre Skool in Touwsrivier sê sy het oukei geskryf, maar met die langvrae gesukkel.
"Ek het gesukkel met die langvraag oor die pad na demokrasie en kon nie die datums onthou nie."
Eljanay verwys na vraag 5: "Die koms van demokrasie in Suid-Afrika en die aanvaarding van die verlede".
Vir haar was die vraestel moeiliker as die eerste vraestel.
"My klasmaats het ook gesê dit was moeiliker en dat die eerste een beter en interessant was."
Vir Quewen Jacobs, ook van De Kruine, was die eerste vraestel ook makliker, maar hy het lekker aan die tweede vraestel geskryf.
"Dit was om eerlik te wees glad nie wat ek verwag het nie. Daar was 'n paar ingewikkelde vrae en jy moes die bronne goed interpreteer."

Hul geskiedenisonderwyser, Abraham Scheepers, het hulle egter baie goed op die eksamen voorberei.
"Hy het ons goed voorberei en die langvrae by ons ingedril. Die vraestel was vir my oor die algemeen lekker."
Danksy al die voorbereiding het hy 'n goeie idee gehad wat om te verwag en toe hy die vrae sien, het alles wat hulle geleer het na hom toe teruggekom.
Hy het teen Dinsdag 20:00 hersiening gedoen en van sy vriende het na sy koshuiskamer gekom waar hulle die langvrae vir mekaar opgesê het.
Die langvraag by vraag 5 het hom ook uitgedaag.
Die stelling by dié langvraag lui: Die pad na demokrasie is gekenmerk deur die voorkoms van geweld en konflik, maar dit kon nie die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in Suid-Afrika keer nie.
Leerlinge moes die stelling krities bespreek en relevante geskiedkundige bewyse gebruik om hul argumente te staaf.
"Die langvraag oor die pad na demokrasie was uitdagend, maar ek het dit in 15 paragrawe beantwoord." sê Quewen.
Christiaan Swart van die Hoërskool Montagu het die vraestel kafgedraf.
"Dit was makliker as wat ek verwag het; ek het baie gestres oor dié vraestel".
Hy erken die vraestel was uitdagend omdat hy twee langvrae gedoen het. In die eerste vraestel het hy net een langvraag gedoen.
Hy het ook nie baie lank voorbereidingswerk gedoen vir die vraestel nie en nie met die langvrae gesukkel nie.























