Anathi Lwazikazi Nkuhlu van Auxilio Distance Education is danksy sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (Sacai) se naasbeste kandidaat vir 2023.
Anathi, van Gauteng, het 'n gemiddelde punt van 89,16% in die eindeksamen behaal om dié onafhanklike eksamenraad vir afstandonderrig se naasbeste matriekleerling te wees.
'n Leerling van die UCT Online High School is die topmatriek van dié eksamenraad, maar wou nie sy/haar identiteit bekend maak nie.
Ronel Smart, woordvoerder, sê daar is drie eksamenrade vir die Nasionale Seniorsertifikaat in Suid-Afrika: Die departement van basiese onderwys, Sacai en die IEB. Al drie hierdie eksamenrade is by Umalusi geakkrediteer. Sacai registreer afstandsonderrigverskaffers (wat aanlyn skole insluit) en onafhanklike skole wat deur Umalusi geakkrediteer is.
Sacai het verlede jaar 69 geregistreerde instansies gehad. Gr. 12-kandidate het by 103 Sacai-eksamensentrums landswyd eksamens afgelê waartydens 42 vraestelle geskryf is.
'n Totaal van 5 826 kandidate was by Sacai vir die NSS-eksamen van Oktober/November verlede jaar geregistreer, wat 'n toename van 17% is vergeleke met 2022 se registrasies.
Die meeste van hierdie kandidate is afkomstig van afstandsonderriginstansies. Sacai se slaagsyfer vir 2023 is 72%, dieselfde as in 2022.
Altesaam 1 655 van Sacai se gr. 12-kandidate kan inskryf vir baccalaureus-grade, 1 171 kan inskryf vir diplomakursusse en 427 vir hoër sertifikate by tersiêre instansies.
"Ons is ook bly oor die 1 838 onderskeidings wat ons kandidate in 2023 behaal het, in vergelyking met die 1 302 van 2022, wat 'n verbetering van 41% verteenwoordig."




















