Matrieks

Arnold is alfa onder die alpha-wiskundiges

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Volpunte vir alpha-wiskunde.

Arnold Dippenaar, 'n matriekleerling aan die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, beklee dié top-posisie in die land nadat hy 200 uit 200 oftewel 100% vir sy alpha-wiskunde-eindeksamenvraestel behaal het.

Arnold Dippenaar, matriekleerling aan die Hoërskool Waterkloof, is as die top-presteerder in alpha-wiskunde aangewys. Foto: Seugnet van Zyl
Arnold Dippenaar, matriekleerling aan die Hoërskool Waterkloof, is as die top-presteerder in alpha-wiskunde aangewys. Foto: Seugnet van Zyl

Die alpha-wiskunde-eksamenpaneel het Maandag prysgeld van R1 000 aan Arnold kom oorhandig.

"Alle eer aan God," sê Arnold oor dié prestasie.

Alpha-wiskunde, voorheen addisionele wiskunde, is 'n buitekurrikulêre vak wat aangebied word vir leerlinge met 'n besonderse belangstelling in wiskunde.

Volgens die alpha-wiskunde-webtuiste stel dié vak leerlinge in staat om kreatief te dink, bied meer stimulasie as skoolwiskunde en help dit dat studente hul graad in die voorgeskrewe tyd voltooi.

Arnold glo dié vak gaan hom volgende jaar 'n voorsprong gee.

Leerlinge soos Arnold, wat volgende jaar aktuariële wetenskap by die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, word aangemoedig om alpha-wiskunde as ekstra vak te neem.

Arnold sê hy het voor dié vraestel baie ou vraestelle uitgewerk.

"My tyd was baie beperk. Ek het heeltyd gefokus gebly en het nie vasgesit by enige vraag nie."

Hy het goed gevoel ná die skryf van die vraestel, maar tog gedink dat hy dalk 'n simpel fout gemaak het wat hom die eerste plek sou kos.

"Ek is vir die eerste keer eerste."

Wat volgens hom in sy guns getel het, is sy goeie onderwyser, Manie Janse van Rensburg, en dat hy al sy huiswerk gedoen het en "minstens in die helfte van die vroegoggend klasse vir alpha-wiskunde opgelet het".

Arnold gaan die einde van sy skoolloopbaan behoorlik vier deur eers saam met ander matrieks op die matriekboot te gaan vakansie hou, dan gaan hy saam met sy oupa, Johan Myburgh tiervis vang in die Zambezirivier, saam met sy gesin in Jeffreysbaai vakansie hou en ook saam met hulle in Switserland ski.

Hy gaan sy wengeld gebruik om hengeltoerusting te koop.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM