Die kranige atleet Divan Vlok (18) het driekwart van sy matriekjaar op die oefenbaan deurgebring en steeds met een onderskeiding (in lewensoriëntering) aan Hoërskool Zwartkop in Pretoria geslaag.
Dit was uiteraard nie maklik om in sy matriekjaar ewe veel aandag aan sy akademie en atletiek te gee nie. "My strategie verlede jaar was om te fokus op wat voor my was. Wanneer ek atletiek geoefen het, het ek net daarop gefokus en as ek gestudeer het, het ek net daaraan aandag gegee."

Vlok het in 2021 aan verskeie toernooie deelgeneem en goed presteer en het 'n paar persoonlike beste tye gehardloop.
Dié 400 m-atleet het in 2021 opslae gemaak in die SA kampioenskappe in die Paarl toe hy 'n eerste plek behaal het.
Hy is ná die nasionale kampioenskappe na die wêreldkampioenskappe in Kenia, maar het nie vir die uitdunne gekwalifiseer nie.
In 2022 het hy in die SA kampioenskappe in Potchefstroom in die tweede plek geëindig.
Die nasionale atleet het Suid-Afrika ook verlede jaar in Columbia verteenwoordig en die vyfde plek daar losgehardloop.
Hierdie kranige atleet, wat gedurende sy hele skoolloopbaan aan atletiek deelgeneem het, sê hy is trots op wat hy in sy "belangrikste jaar", sy matriekjaar, kon bereik.
Divan gaan vanjaar ondernemingsbestuur aan Akademia in Centurion studeer.




















