Die heel beste teenvoeter vir matriekeksamen-spanning is babakatjies.
"Vandat ek begin help het om katte te red, het ek al 40 babakatjies met bottels grootgemaak. Een van hulle is sommer saam met my na die matriekafskeid se afterparty sodat ek dit gereeld kon voer," sê Miya Wood (18) van Centurion, Pretoria.
Haar tweelingbroer, Luka, was ook reg om sy sus te help wanneer hy nie met sy neus in die boeke was of krieket gespeel het nie.
Tussen die twee het hulle 14 onderskeidings, sewe elk, ingepalm.

Boonop was Miya hoofmeisie van die Hoërskool Eldoraigne en Luka op die leierraad en die kaptein van die eerste krieketspan. "Ek hou ook daarvan om vir 'n klomp klubs buite die skool te speel. Ek het ook provinsiaal krieket gespeel," sê die blondekop oor sy prestasies.
Hul grootste uitdaging tydens hul matriekjaar was om 'n balans te vind. "Ek was ook betrokke by sport en kultuur, dan wil jy graag jou vriende sien en 'n sosiale lewe hê en tyd vir jouself maak. Dis die moeilikste ding om te bemeester," sê Miya.
Gelukkig kon hulle hul kleinsus. Jaime, wat nou gr. 7 in die Laerskool Swartkop is, rondstuur om te help om koffie te maak - dis nou wanneer pa Peter, 'n finansiële bestuurder, en ma Karien, wat haar eie bemarkingsagentskap besit - nie besig was om haar rond te karwei vir al haar aktiwiteite nie.
"Wanneer ons dieselfde vakke geskryf het, het ons daarvan gehou om saam te studeer. Ek het sommer in Luka se kamer gaan sit en ons het ou vraestelle deurgewerk."

Luka mag in elk geval nie kla nie, want Miya is een minuut ouer as hy, skerts sy.
Albei is nou reg vir Tukkies (die Universiteit van Pretoria). Luka gaan bedryfsingenieurswese studeer en Miya sielkunde. "Ek het lank nie geweet wat ek wil doen nie, maar omdat ek met so baie mense moes werk op die leierraad en met my kultuur-aktiwiteite, het ek besef dis wat ek wil doen."
Ten spyte daarvan dat sy twee jaar gelede begin het om katte te help red, te laat steriliseer en om babakatjies groot te maak voordat hulle vir aanneming gegee word, wou sy nie 'n veearts word nie.
"Ek dink ek is net té lief vir diere. Ek sou dit nie kon hanteer om elke dag te sien hoe hulle seerkry nie. En daar is maar baie daarvan daar buite."
Hulle is opgewonde oor die bydrae wat hulle tot ons land kan lewer. "Geskiedenis was my lekkerste vak. Ek glo almal moet weet wat in die geskiedenis gebeur het."
Tog leef sy en Luka vir die hier en nou. "Dis 'n cliché, maar Covid het eintlik baie van ons ontneem," sê Miya. "En baie van die lekker ervaringe wat ons op hoërskool kon hê, weggevat," voeg Luka by.
"Ons curriculum is gesny en verkort en vir twee jaar was alles anders. Ons het verlede jaar vir die eerste keer 'n vraestel wat drie uur lank was, geskryf."
Nie dat dit lyk asof dit hul punte beïnvloed het nie. "Matriek is nie vir sissies nie, maar ek het baie van myself geleer," sê Miya.

















