Matrieks

BCVO ‘maak deure oop vir sy matrieks’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Matrieks van die Beweging Christelike Volkseie Onderwys-skole (BCVO) het vanjaar 'n 100%-slaagsyfer van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) behaal.

Luidens 'n verklaring is dit die eerste keer in drie jaar dat die BCVO 'n 100%-slaagsyfer behaal het.

In 2021 was dit 98% en 99% in 2020.

Al die BCVO-matrieks van 2022 kan een of ander tersiêre studie onderneem, waaronder 87% toelating tot graadstudie en die res almal tot diplomastudie behaal het.

Die BCVO is volgens Lucia van Wyk, uitvoerende hoof, besonder trots op hierdie prestasie.

"Dit is 'n bewys dat die BCVO waar moontlik vir kandidate deure oopmaak. In 2021 het 80% van die kandidate toelating tot graadstudie gehad. In 2020 was dit 79% en 74% in 2019."

Matrieks van die BCVO Potgietersrus in Mokopane, Limpopo, het besonder goed presteer. Jolanie Nel en JF van der Merwe het elk sewe onderskeidings behaal.

"Jolanie is deur die IEB vir besonderse akademiese prestasie vermeld. Sy is met ses of meer van haar vakke onder die beste 5% van IEB-kandidate en het ook 'n onderskeiding in lewensoriëntering behaal," sê Van Wyk.

Anke Weideman, Daleen van Schalkwyk en Lezelle Pretorius, ook van Mokopane, het elk vyf onderskeidings behaal.

"10% van die BCVO se matrieks is deel van die beste 1% van die IEB-kandidate. Van die leerlinge wat dié prestasie kon behaal, is Weideman, wat A's in Afrikaans huistaal en lewensoriëntering behaal het. Nel het onderskeidings in verbruikerstudie en lewenswetenskap, Daleen van Schalkwyk in wiskundegeletterdheid en lewensoriëntering, Jana Tomlinson in gasvryheidstudie en Lezelle Pretorius in wiskundegeletterdheid behaal."

Juriné Combrinck van BCVO Lichtenburg in Noordwes het vyf onderskeidings behaal en verskeie ander matrieks daar minstens vier onderskeidings.

"Die matrieks van 2022 is 'n groep wat vermelding verdien veral omdat hulle in hul gr. 10- en 11-jaar baie swaargekry het weens die Covid-19-pandemie. Dit was nie net onsekerheid nie, maar ook trauma wat hulle beleef het. Hulle het egter besonderse aanpasbaarheid en deursettingsvermoë getoon en uitgestyg bo al die uitdagings. Ons is besonder trots op hulle," sê Van Wyk.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM