Beaulah Shaw (18), wat A's in al agt haar vakke in die matriekeindeksamen behaal het, wil eendag as biomediese ingenieur 'n verskil in die mediese sektor, veral dié van Suid-Afrika, maak.
Dié oudleerling van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, Duits tweede addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe behaal.
Sy was Donderdag effens senuagtig oor Vrydag se uitslae en het nie geweet wat om te verwag nie, maar vir die beste gehoop.

"Ek dink ek was so opgewonde om klaar te maak dat dit eintlik vir my 'n lekker eksamen was."
Die chemievraestel het haar wel "gegooi".
Die Bloemfonteiner is lief vir die buiteland en het by die Nasionale Universiteit van Singapoer en 12 Amerikaanse universiteite aansoek gedoen om biomediese ingenieurswese te studeer. Beaulah moet haar matriekuitslae egter eers aan dié universiteite verskaf voordat sy weet waar sy keuring het.
Sy is ook van plan om by die Universiteit van Pretoria aansoek te doen.
Beaulah was al 'n uitruilstudent in Duitsland en het ook vir ses weke lank musiekopleiding in die Amerikaanse deelstaat Michigan ontvang. Sy bespeel die Franse horing en was vanaf gr. 9 tot matriek in Oranje se koor.
Sy sê sy wou nog altyd in die ingenieurswese studeer.
"Biomediese ingenieurswese kan so 'n groot verskil maak in veral die mediese sektor in Suid-Afrika waar baie mense nie 'n mediese fonds of mediese hulp kan bekostig nie. 'n Mens kan baie beter maniere kry om diagnoses te lewer en goedkoper mediese gereedskap ontwerp en ek dink dit kan hier 'n baie groot verskil maak."
Haar ma, Wanda van der Ahee, is 'n gekwalifiseerde verpleegkundige wat tans as mediese verteenwoordiger werk en haar stiefpa, Johan van der Ahee, 'n makelaar.
Sy het 'n ouer broer, John Shaw (20), 'n oudleerling van Grey Kollege in Bloemfontein.
Sy gaan haar vriende en onderwysers by die skool mis, maar sien uit na die nuwe uitdagings.
Sy het haar laerskoolloopbaan aan die Primêre Skool Universitas (Tjokkies) in Bloemfontein voltooi.



















