Thinus de Vries, 'n vennoot by Mazars, een van die borge van die Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat, Netwerk24 en Volksblad, is besonder opgewonde oor die drie 2022-topkandidate wat rekeningkunde studeer.
"Ek sien ook uit om 'n pad met hulle te stap en vir hulle 'n ondersteuningsnetwerk te wees. Ons as geoktrooieerde rekenmeesters wil graag opkomende rekenmeesters help om eindelik hul doelwitte te bereik. So gee ons terug aan die beroep," sê Thinus, self 'n oud-Kovsie.

Mazars dra R35 000 by tot die prysgeld van die 14 finaliste en is ook die amptelike ouditeur van die kompetisie.
Benewens die talentvolle matrikulante wat aan die kompetisie deelneem, is die eindronde ook 'n geleentheid om alles te onthou wat hul ouers oor 18 jaar in hulle belê het. "Dit is dus 'n viering vir die matrikulante én hul ouers," sê Thinus.
Hy reken die kompetisie is al meer as 40 jaar vir matriekleerlinge 'n platform om tersiêre onderrig aan Kovsies moontlik te maak. "Nie net word vriendskappe gevorm en nuwe mense ontmoet nie, maar leerlinge word ook uit hul gemaksone gehaal. Dit laat hulle as individue groei."
Chrisna Roelofse, oud-onderhoofmeise van die Hoërskool Landboudal in Jacobsdal, is een van die finaliste wat vanjaar rekeningkunde studeer. Sy noem ook dat die nuwe vriendskappe wat gevorm word vir haar baie beteken het. "Dit het die oorskakel van hoërskool na universiteit vir my vergemaklik. En 2021 se finaliste het ons senuwees bietjie laat bedaar deur ons meer van die universiteit te vertel."
Sy geniet haar kursus baie, maar komende van 'n Afrikaanstalige skool was dit 'n groot aanpassing om in Engels onderrig te ontvang en eksamen te skryf. Terselfdertyd sê Chrisna sy het geleer dat sy nie haarself moet onderskat nie, omdat sy veel meer kan doen as wat sy dink - soos om alles in Engels te doen!
Sy beskou die kompetisie as 'n goeie geleentheid om nuwe vriende te ontmoet en bekende gesigte op kampus te sien en te weet dat daar mense is wat deur dieselfde onbekendheid gaan as jy. Dis ook 'n goeie geleentheid om erkenning vir jou harde werk te kry.

Skryf nou in
Veelsydige matrikulante wat akademies presteer, betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole, en wat beoog om in 2024 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle inskryf.
Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet op die vorm aangebring word.
Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, geskenke ter waarde van R10 000, en gaan na die eindronde-geleentheid in Bloemfontein.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.
Inskrywings moet die UV voor of op Vrydag 4 Augustus bereik. Vir inskryfvorms, stuur gerus e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.




















