Die geweld op kampusse soos by die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Fort Hare-Universiteit, die toenemende misdaadvlaag en die omvang van korrupsie is besig om die land verby die kantelpunt te stuur, skryf Charles Smith.
Dit was Dinsdagaand met die kroningsplegtigheid van Netwerk24 en Volksblad se Matrikulant van die Jaar-kompetisie in Bloemfontein dat ek die 14 finaliste met ’n gevoel van ontsettende trots en hoop vir die land aanskou het.
Maar in my agterkop was ’n gevoel van kommer oor die land wat toeneem. Die spogkompetisie word in samewerking met die UV aangebied, waartoe hierdie topmatrieks hulself vir hul studies verbind. Maar prof. Hester Klopper, die rektor, is afwesig weens die geweld wat die UV die afgelope week teister.
Die UV se drie kampusse is gesluit ná die vlaag geweld. Ses studente het Maandag in die landdroshof in Bloemfontein verskyn in verband met die aanval met petrolbomme op ’n wagpos op die kampus. Drie wagte is in die aanval beseer. Die aand is ’n gebou op die Qwaqwa-kampus aan die brand gesteek. Op ’n video van die inferno kan mense gehoor word wat hardop lag.
Ons kry ook ’n video van veiligheidswagte op die Qwaqwa-kampus wat in die donker agter skilde skuil terwyl studente hulle peper met groot klippe. Glas spat soos die klippe deur ruite gegooi word.
Net voordat die matriekgeselligheid begin het, gesels ons met van die uitgelese gaste van onder meer die Kovsie Alumni, wat met geld wat deur oudstudente ingesamel word, beurse aan die matrikulante gee. Almal is ontsteld en bekommerd oor die gebeure by hul almal mater vir wie hulle steeds dekades nadat hulle grade hier behaal het, geld insamel. Ek betaal self R100 per maand vir die fonds.
’n Oudregter voel studente wat aangekla word van geweld op hul eie kampus, behoort glad nie borgtog te kry nie. Daar moet ’n swaard bo studente se koppe wees, anders herhaal die patroon hom net elke jaar – soos dit inderdaad gebeur. Die studente se prokureur het versoek dat hul name nie genoem word nie, want dit kan hulle in die toekoms belemmer om werk te kry.
Ironies genoeg het die UV pas ’n lemmetjiesdraad-heining om die hoofkampus in Bloemfontein met ’n gewone heining vervang. Die veiligheidsheining is “Prof. Jansen se heining” gedoop, wat opgerig is ná die Slag van Shimlapark toe protesterende studente en toeskouers by ’n rugbywedstryd op Shimlapark gebots het in die teenwoordigheid van prof. Jonathan Jansen, die destydse rektor.
Ek gesels met twee van verlede jaar se topmatrikulante, Chris Goosen en Jurie Blignault, wat albei medies aan die UV studeer. Hulle geniet hul studies ontsettend baie en sien uit na die laaste kwartaal van hul eerste studiejaar – mits hul studies kan voortgaan.
Dit is die skouers wat lig en die stilte in die verwysings na die geweld wat die storie voltooi.
‘Ouers se opofferings’
Die 14 finaliste uit sewe provinsies, wat elke bevolkingsgroep in die land insluit en uit agt meisies en ses seuns bestaan, gee my die gevoel van eenheid in diversiteit wat die Springbokspan so skitterend uitbeeld en die wonderwerk van die land is, ten spyte van al sy gebreke en pyne.
Kiara Subramanian van Eunice High in Bloemfontein, die Matrikulant van die Jaar, gee ’n roerende, sobere toespraak waarin sy haar ouers en haar skool bedank. “Dit is die som van al hul opofferings oor al die jare,” sê sy van haar ouers.

Tot kort voor 1994 mag Indiërs nie eens in die Vrystaat gewoon en gewerk het nie. Hulle moes binne 24 uur uit die provinsie wees, of in ’n tronk gestop word. En hier wen ’n Indiër-meisie in een van die topskole in die Vrystaat die Matrikulant van die Jaar-kompetisie. Ons het tog drastiese vordering gemaak die afgelope 30 jaar.
Kiara gaan, soos minstens agt van die 14 finaliste, volgende jaar medies aan die UV studeer en wil graag eendag vir Dokters Sonder Grense werk.
Emile Dawson, ’n matrikulant aan die William Pescod High School in Kimberley, sê hy sal die eerste dokter in sy familie wees en sal graag eendag wil terugploeg in sy gemeenskap wat hy ontvang het.
Die leerlinge se stories, opgewondenheid en nederige selfvertroue gee mens hoop vir die land. Hulle is die pilare waarop die land se toekoms gebou moet word om homself uit die sinkgat van armoede, misdaad, korrupsie en geweld te trek.
Wat gaan gebeur as selfs dié room van die oes moedeloos gaan raak weens die geweld op kampusse en die skadu wat die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel (NGV) oor die mediese sektor gooi?
Minstens een het aangedui dat hy eendag in die buiteland wil werk as dokter.
Waar is die vredemakers?
Die vraag is hoekom ons die verskynsel in Suid-Afrika het – ’n land wat deur onderhandelde skikking tussen ’n apartheidsregering en vryheidsvegters sonder ’n burgeroorlog tot stand gekom het – dat studente hul eie kampusse plunder en verwoes as hulle nie hul sin kry nie? Hoe lank gaan en kan die handjievol belastingbetalers opdok hiervoor?

In gesprekke is dit duidelik dat die korrupsie waarin die regering deurdrenk is, ’n rol speel. Jong mense se houding is dat ’n mens vinnig ryk kan word. Hul “helde” op sosiale media is lede van kartelle wat hospitale plunder en versamelings spogmotors het en peperduur drank drink – en selfs in baadjies van R50 000 in die hof verskyn. Swaar gewapende rowers word by die dag in gru-voorvalle in die strate doodgeskiet, of hulle skiet weerlose slagoffers dood.
Hoe raak dit mense wat self by die UV werk? Ek het die video van die aanval op wagte op die kampus op Facebook geplaas en gevra dat mense wat direk daardeur geraak word, moet vertel hoe hulle voel.

Jo’Anni De Klerk-Deacon, ’n werknemer van die UV, se antwoord is hartverskeurend. Sy sê die afdeling waar sy werk, is verantwoordelik vir alle verbeterings en instandhouding op die kampus.

“Ek word dus direk geraak omdat alles wat beskadig word, deur ons herstel moet word. Ons werk gaan dus baie meer wees as gewoonlik. Dis OK. Ons is ’n gedugte span, ons kan dit vat. Maar die oorweldigende emosie wat ek ervaar, is hartseer. My hart is seer vir ons pragtige kampusse wat verniel word. My hart is seer omdat mense mekaar nie verstaan nie. My hart is seer omdat die oplossings nie noodwendig almal gaan help nie. Daar gaan altyd slagoffers wees,” skryf sy.
“My hart is seer omdat ek by die huis moet bly en nie werk toe kan gaan nie – dis vir ons eie veiligheid, wat ek verstaan. Ek waardeer die moeite wat die UV doen om ons te beskerm. Maar dit op sigself maak my angstig, want dit is nie lekker om in ’n omgewing te werk waar goed gedoen word ‘vir jou eie veiligheid’ nie (let wel dat dit enkele uitsonderlike gevalle is).
“My hart is seer want die hele wêreld bloei. Waar is die vredemakers? Waar is die deernis vir mekaar? Ons almal weet dit wat gebeur is nie reg nie, maar oordeel en haat los niks op nie. I am no saint– ek raak ook opgewerk oor die situasie. Ek hoop en bid dat dit opgelos word. Ek hoop en bid vir ’n uitkoms vir almal. Ek hoop en bid dat ons dalk vandag die boodskap sal kry dat ons môre kan gaan werk.”
Ek kyk na die matrieks en luister na hul pragtige stories van onderwysers en ouers wat hulle dra en dink in my agterkop aan die beelde van die aanval op die wagte en aan De Klerk-Deacon se antwoord op my vraag.

Ek dink ook aan die storie wat ek die oggend gehoor het van die klein gestremde meisie wat wreed verkrag is terwyl haar ma winkel toe was. Die meisie het stom met groot oë bly staar ná die aanval, met haar ma wat veg teen die bom wat in haar bors opbou.
Dit is daardie atoombom van woede en pyn en wanhoop wat opbou en ons land kan vernietig. Mag die vredemakers, die bouers en die eerbare mense die oorlog teen die bose wen.
• Smith is Netwerk24 se nuushoof in die Vrystaat en die Noord-Kaap. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
3881













