Carly se melodieë wen harte

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Carly Piater (18)Foto’s: VERSKAF
Carly Piater (18)Foto’s: VERSKAF

In die hartjie van Worcester skitter 'n ster helder.

Carly Piater (18), 'n aspirant-musikant, het nie toegelaat dat haar blindheid in die pad staan van sukses en haar droom om 'n musikant te word nie.

Van kleins af het Carly, 'n matriekleerling aan Worcester Gimnasium, se liefde vir musiek duidelik geword.

Haar musiekreis het begin toe sy as vyfjarige begin klavier speel het.

"Op agtjarige ouderdom het ek begin les kry by 'n juffrou by die Pionier­skool vir Siggestremdes wat vir die laerskoolleerlinge les gegee het.

"Dit het nie eintlik goed gewerk nie, want my lesse het baie keer met ander verpligtinge gebots.

"Ek het destyds ook nie baie geoefen nie en teen die tyd wat ek by haar les gehad het, het ek alweer my stukke vergeet."

Haar ware musikale talent het egter geblom toe sy 13 jaar oud was en lesse begin neem het by dr. Joan Wootton.

"Onder juffrou Wootton se leiding het ek vinnig gevorder. Ek het van voor graad 1 tot graad 3 in my prakties gevorder. Haar motivering het my gehelp om my beste te gee," sê Carly.

Teen 2022 het sy haar graad 5-Trinity-klaviereksamen gespeel, wat 'n suksesvolle oorgang na graad 7 ingelui het.

"Ek het 87% behaal vir my graad 7- prakties - alles danksy juffrou Hutton se toewyding en inspirasie."

Ondanks die druk van mense rondom haar om musiek vir praktiese vakke soos IT of rekeningkunde te verruil, het Carly altyd geweet musiek is haar roeping.

"Ek het op 'n dag vir my pa gesê al sit ek op straat en maak nie baie geld nie, musiek is wat my hart begeer," onthou Carly.

Hierdie besluit het haar aangespoor om haar sokkies op te trek en haar teorie en praktiese werk gelyktydig te verbeter.

"Juffrou Wootton het baie moeite ingesit en gesê ek moet meer oefen. Sy't nooit opgegee met my nie. Sy het my gekry van graad 1-teorie tot graad 3-teorie binne die bestek van drie maande.

"Sy't regtig hard gewerk met my en soveel ure ingesit vir my. Ek sal haar regtig ewig dankbaar wees. Ek sou dit nie sonder haar kon doen nie. Wat almal gesê het is onmoontlik met die teorie, het ons reggekry," sê sy met 'n glimlag.

Omdat Carly baie graag volgende jaar musiek wil studeer, moes sy aan die begin van haar gr. 10-jaar oorskakel van Pionierskool na Worcester Gimnasium.

"Pionierskool het nie musiek as vak aangebied nie, en jy moet dit hê om aansoek te doen vir die kursus wat ek wil volg," sê Carly.

Die aanpassing was groot - van kleiner klasgroottes tot 'n vinniger pas van werk - maar Carly het hierdie veranderinge met veerkragtigheid begroet.

"Hoewel my klasmaats my soms gehelp het, het ek vinnig onafhanklik geword. Teen die derde kwartaal kon ek volledig selfstandig beweeg. Dit was regtig nooit vir my nodig om hulp te vra nie."

Oor haar akademiese ervaring sê Carly: "Van my handboeke was in brailleskrif en ek het moderne tegnologie gebruik om notas en opsommings te maak. Onderwysers het ook ekstra tyd aan my afgestaan wanneer ek dit nodig gehad het.

"Al is 'n hoofstroomskool dalk nie vir almal nie, het ek in Gim gefloreer."

Op haar kreatiewe reis het Carly ook sukses behaal in die Talento-sangkompetisie waar sy die senior kategorie gewen het. Sy het ook 'n lied, "Life for Always", vir 'n dokumentêr oor haar en haar tweelingsuster, Rénel, geskryf. Die einste liedjie het ook toekennings gewen by die Filmit-kompetisie.

Carly skryf ook haar sukses aan haar suster en ouers toe.

"Rénel het 'n integrale rol gespeel in my grootwordjare. Dit klink dalk vreemd, maar sy het my eers in die diep kant ingegooi voor sy my gehelp het. Dit is hoe ek onafhanklikheid aangeleer het. In Pionierskool het jy baie meer mense wat jou help met sekere goed.

"Rénel het nooit toegelaat dat ek my beperkinge as verskoning gebruik om iets nie te doen nie. Alles wat ek vandag kan doen, het sy my basies geleer. As hulle miskien 'n ‘siende' speletjie gespeel het, het sy 'n manier gevind dat ek dit kan saamspeel.

"Daar was nie iets soos ‘jy kan dit nie doen nie, want jy gaan seerkry' nie. As jy seerkry, plak ons 'n pleister daarop."

En haar ouers het Carly nooit "blind" grootgemaak nie, voeg sy by.

"As hulle op die rotse gaan visvang het, het ek saamgegaan. Of my pa my nou op sy rug moes dra, hy het dit gedoen. Daar was nie iets soos ‘siestog, jy kan dit nie doen nie, want jy is blind' nie, eerder ‘ons gaan probeer totdat jy dit regkry'.

"Hulle het my ook baie onafhanklik grootgemaak. Hulle sou soms vergeet om vir my te gesê hulle het die huis geskuif. Dan moes ek self uitpluis hoe om my weg te vind.

"Hulle het nie by my aangepas nie, ek het by hulle aangepas. Ek is so dankbaar hulle het my so grootgemaak. As dit nie daarvoor was nie, sou ek nooit so onafhanklik gewees het nie.

"My ouers het 'n groot rol in my menswees gespeel. Ek het my sin vir humor by my pa gekry. Ek kan 'n blinde grappie vat. As jy 'n grappie met my maak, weet ek jy is gemaklik met my," vertel sy laggend.

Carly sien uit daarna om vanjaar 'n oorbruggingsjaar te neem waartydens sy haar graad 5- Unisa-teorie-eksamen gaan aanpak. Sy het matriek met een onderskeiding en toelating tot graadstudies geslaag.

"Ek weet nog nie presies waar ek wil gaan studeer nie - ek besluit nog. Gelukkig het ek nog hierdie jaar om bietjie daaroor te dink. My hoofdoel is om vanjaar 'n klomp optredes te doen, en ek spaar ook nou om my eie musiekstudio te kry waar ek musiek kan opneem.

"My droom is om die wêreld plat te reis, optredes te doen en liedjies te skryf - vir ander asook vir myself."

SPELETJIES VANDAG

CTA