"Baie mense vra my hoe ek dit regkry om 'n besigheid te bestuur en ook by my studies uit te kom. Goeie tydbestuur en standvastigheid in jou geloof - dít is my twee hoofbestanddele tot hierdie sukses."
So sê Kimoné van der Merwe (18), wat aan Hoërskool Zwartkop in Centurion gematrikuleer het.

Sy het op 16-jarige ouderdom 'n onderneming genaamd Oom Peet se Dienste in haar gemeenskap begin. Kimoné verdien 'n ekstra inkomste deur mense se tuinvullis en vragte te vervoer, 'n behoefte wat sy in die gemeenskap geïdentifiseer het.
Die onderneming is genoem na die oom (Peet) by wie Kimoné die bakkie gekoop het.
"Om Peet se Dienste probeer nog altyd om produkte en dienste teen die goedkoopste en veiligste manier te lewer. Die terugvoer wat ek tot dusver ontvang het, is baie positief. Mense is geïnspireer deur die feit dat enigiets moontlik is as jy God aan jou kant het en as dit Sy wil is vir jou om iets te bereik."
Volgens Kimoné is die meeste kliënte "darem geduldig". Sy ontvang ook baie ondersteuning van haar familie.
"Die mense is baie ondersteunend. Ek dink dis juis omdat ek 'n tiener is en hulle weet dat ek nog by my studies moet uitkom. My pa gee my baie ondersteuning. Hy bestuur die bakkie omdat daar baie meganiese probleme is wat ek nog moet baasraak. My broer en sy vriende het ook by tye gehelp wanneer my pa nie beskikbaar is nie."
Hoewel die onderneming haar aan die gang hou, sê Kimoné sy het steeds elke oomblik van haar matriekjaar probeer inneem.
"Elke dag was vir my 'n hoogtepunt. Wanneer ek by die skool was, het daar altyd iets interessants gebeur, al was dit hoe klein. Ek word op die vreemdste maniere vermaak.
"As ek nou aan twee spesifieke gebeurtenisse moet dink, sal dit beslis my 18de verjaardag wees toe die meeste van my familie dit saam kom vier het. My matriekafskeid was ook iets wat vir my uitgestaan het. Ek kon die geleentheid met oom Peet se bakkie bywoon. Wanneer my familie saam met my 'n geleentheid bywoon, is ek gelukkig."
Kimoné se raad aan jong entrepreneurs is "om in jouself te glo en die moeite in te sit".
"As jy uitdagings in die besigheid teëkom en jy voel jy het nie 'n uitweg nie, praat met God daaroor, Hy sal die regte hulpbronne en mense stuur om vir jou 'n uitweg te gee. Wat jy insit, sal terugkom na jou toe, so probeer dus ook ander help en motiveer."
Sy beplan om onderwys te studeer.
"Ek wou nog altyd van kleins af 'n onderwyser wees, en soos wat ek ouer geword het, het ek elke keer net meer redes gekry hoekom dit my roeping is.
"Ons skole-omgewings raak al hoe meer uitdagend. Kinders kry swaar en is eensaam. Ek wil graag daardie rol van die onderwyser vervul waar ek hulle help om hul probleme op te los. Ek wil 'n positiewe verskil in kinders se lewens maak."
Die sakevrou spog met onderskeidings in wiskundige geletterdheid, lewensoriëntering, besigheidstudies en visuele kunste.




















