Pres. Cyril Ramaphosa beskou die prestasies van die matriekklas van 2024 as 'n trotse bydrae tot en bewys van Suid-Afrika se vooruitgang as 'n nasie gedurende 30 jaar van vryheid en demokrasie.
"Hierdie uitslae versterk ons onverskrokke ontwikkeling van ons land se mees waardevolle hulpbron, ons jongmense. Hulle lewer ook bewys dat ons apartheid se beplande nalatenskap van onwaardige behandeling oor generasies heen, benadeling en armoede vir die meeste Suid-Afrikaners ongedaan maak," het Ramaphosa Maandagaand in 'n verklaring gesê.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het Maandag die matriekuitslae bekendgemaak.

Die matriekklas van 2024 het geskiedenis gemaak met die meeste kandidate wat tot nog toe met universiteitsvrystelling geslaag het.
Dit is ook die hoogste matriekslaagsyfer in die land se geskiedenis.
Die uitslae dui op die jeug se werksaamheid, veerkragtigheid en trots om 'n beter toekoms vir hulself en die land te skep, sê Ramaphosa.
"In die openbare en private basiese onderwyssektore verdien ons leerlinge, onderwysers en ouers of versorgers ons waardering, saam met skoolbeheerliggame, vennote in die private sektor, vakbonde en die akademiese wêreld."
Ramaphosa sê die regering en vennote in die burgerlike samelewing moet saamwerk om te verseker dat die matrieks van 2024 geleenthede kan benut om sukses te behaal.
"Dit moet die ruimte en inspirasie vir jongmense insluit om hul eie koers as entrepreneurs, innoveerders, uitvinders en ander verpersoonliking van kreatiwiteit en selfstandigheid in te slaan."
Die president is vol vertroue dat dié matriekklas selfs antwoorde sal bied vir uitdagings wat die onderwyssektor in die gesig staar en die land se ekonomiese prestasie raak.


















