Andrew Williams is nes sy pa 'n kranige rugbyspeler, maar hy wens steeds elke dag sy pa kon sien hoe hy as kaptein vir sy span uitgedraf het.
Maar hy het gou besluit dat hy nie in die hoekie kan sit en net hartseer wees nie, want dan gaan hy gebroke wees.
Andrew (19) het gedink hy gaan matriek aan die Hoërskool Robertson voltooi met sy pa aan sy sy, maar sy pa is ongelukkig op 28 Februarie 2021 aan Covid-19 oorlede.
Sy pa, Allen Williams (52), was 'n bekende en geliefde rugbyspeler in die Boland en was die kaptein van die Boland-rugbyspan in 1998. Hy het ook onder meer verskeie rugbyspanne afgerig en selfs in Nieu-Seeland rugby gespeel.
"Ek is die oudste en kon nie knak ná sy dood nie. Die lewe het my vinnig geleer om soos 'n grootmens te dink," sê hy.
Ewe skielik was Andrew die man van die huis vir sy ma en sy jonger broer.
Hy kyk af en dink voor hy sê: "Ek het nooit gedink ek sal op dié stadium van my lewe moet pa staan nie. Dit is 'n groot rol, want ek moet nou 'n rolmodel wees. Gelukkig het my pa daardie eienskappe vir my geleer, maar ek moes vinnig aanpas en my mindset verander."
Andrew sê sy pa was nie net sy rolmodel nie, maar het deur sy aksies dit vir hom maklik gemaak om die man te wees wat hy vandag is.
"My pa het al die voetspore vir die pad vorentoe vir my getrap, ek moet dit net vol staan," sê hy en sug.
Vir Andrew was sy pa se dood 'n moeilike tyd in sy lewe - veral tydens sy matriekjaar - maar hy sê hul gesin is baie geheg aan mekaar en het mekaar goed bygestaan. Sy vriende het ook die nodige ondersteuning gebied.
"Ek hou nie van hartseer wees nie en ek huil nie sommer voor my familie nie. Ek het gevoel ek moet sterk staan vir hulle en dit was baie moeilik.
"Elkeen gaan deur hul eie seer en 'n mens moet net aanpas by die lewe en op die Here vertrou."
Hy deel dat hy onlangs iets neergeskryf het wat hy vir homself sê as dinge moeilik raak: ‘Moenie laat die lewe jóú lewe bepaal nie.'
Vir hom was dit baie moeilik om die trotse oomblik as die skool se eerstespan-rugbykaptein te geniet. Hy het immers sy liefde vir rugby met sy pa gedeel.
"Dit was moeilik om die eerste keer op die veld uit te draf en my pa is nie daar om dit te sien nie.
"Vir my is dit moeilik om te besef my pa gaan nie daar wees om die suksesse in my lewe, soos my eerste werk, te vier nie," voeg hy sag by.
Volgens Andrew is hy geestelik moeg ná verlede jaar, want dit was alles net te veel vir een jaar en dit is vir hom 'n groot prestasie dat hy matriek voltooi het.
"Ek het vir myself gesê ek wil net slaag, want ek het klaar te veel deurgemaak in die jaar om nog te dop ook."
Andrew het gister matriek met universiteitsvrystelling geslaag en beplan om vanjaar te gaan onderwys studeer, maar wil steeds rugby speel en veral daarin presteer.
As daar een ding is wat verlede jaar hom geleer het, is dit dat hy sterker is as wat hy dink. Hy sê hy hou nie van hartseer wees nie en wil eerder net glimlag. En hy wys dit - al praat hy oor die moeilike tye.
"Moenie laat die lewe jou druk nie. Baklei terug," sê hy met daardie einste glimlag op sy gesig.
















