Matrieks

Deur diep waters in sy matriekjaar

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Chemoterapie" en "matriek" is nie twee woorde wat 'n mens in een sin wil gebruik nie. Dit was egter verlede jaar vir Steven Keyter, wat aan die Hoërskool Randburg gematrikuleer het, 'n werklikheid. Hodgkin-limfoom (fase 3) is in Maart verlede jaar by hom gediagnoseer.

Dit was egter nie die begin van die traumatiese pad wat Steven in sy hoërskooljare moes stap nie. Sy pa, Hennie, is op 20 Augustus 2018 skielik - net 'n maand voor Steven se 15de verjaardag - aan 'n hartaanval dood. Hy het in 2019 sy ouma (sy pa se ma) verloor en sy geliefde hond wat sy pa vir hom gegee het. Dit het gelei tot 'n massiewe angsaanval wat hom vier dae in die hospitaal laat beland het.

Steven Keyter pas nadat hy sy laaste chemoterapie-sessie voltooi het. Foto: Marlize Keyter
Steven Keyter pas nadat hy sy laaste chemoterapie-sessie voltooi het. Foto: Marlize Keyter

"Posttraumatiese stres is hierna by my gediagnoseer en ek het die volgende 18 maande daarmee geworstel," sê hy.

In 2021 het Steven begin met matriek, maar ná nog terugslae en die afsterwe van sy ander ouma, het sy ma, Marlize, besluit dit sal beter wees as hy gr. 11 oordoen.

"Hy het ten spyte van al die verliese en terugslae gr. 11 met vyf onderskeidings geslaag," sê sy trotse ma.

Toe hy verlede jaar in matriek was, is hy op 17 Maart na hul huisdokter met 'n hoë koors en erg geswelde kliere. "Ná vele skanderings, bloedtoetse en 'n beenmurgtoets is kanker by my gediagnoseer. Op 7 April het ek met chemo begin, elke twee weke vir ses maande," sê Steven.

"Daar was dae wat ek net wou lê, maar dis aaklig om so magteloos te voel, so ek het myself met klein dingetjies besig gehou. Op die dae wat ek beter gevoel het, het ek soveel as moontlik op my skoolwerk gefokus."

Op 14 September verlede jaar het hy klaargemaak met 12 chemo-sessies en op 11 Oktober is hy kankervry verklaar.

"Ek moet wel vir die volgende vyf jaar elke ses maande vir skanderings gaan. Hierdie ervaring het my laat besef hoe kosbaar die lewe is, en dat die kleinste dingetjies 'n mens soms deur die donkerste dae kan kry."

Steven het in sy matriekjaar in totaal twee maande se skooldae gemis, maar hy is dankbaar dat sy onderwysers en die skoolhoof van die Hoërskool Randburg, mnr. Booysen, hom baie gehelp het om met sy werk by te bly. Hy het matriek met universiteitsvrystelling en 'n onderskeiding in toerisme geslaag.

Steven wil 'n entrepreneur word, en gaan vanjaar die Young Minds-program aan die Stellenbosse sakeskool volg. Dit is 'n program wat daarop gemik is om entrepreneursvaardighede te bevorder.

Karla Janse van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM