Diagnose keer nie prestasies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om voor 'n klas te staan en jou Afrikaanse mondeling te doen kan vir sekere leerlinge vreesaanjaend wees. Maar Marí Kemp (18), 'n matriekleerling aan die Hoërskool Dirkie Uys, het haar laaste mondeling vol selfvertroue gedoen.

Sy het besluit om vir haar laaste mondeling ooit met haar klasgroep te deel dat Asperger-sindroom by haar gediagnoseer is.

Asperger-sindroom word gekenmerk deur aansienlike probleme in sosiale interaksie en nieverbale kommunikasie, maar verskil van outisme omdat mense met Aspergers (Aspies) relatief ongestoorde spraak en intelligensie het.

"Ek het dit nie eens agtergekom nie, maar die hele klas was in trane. Ek het dit glad nie verwag nie. Ek het nie eens visuele hulpmiddels gehad nie, maar ek het sommer volpunte vir daardie mondeling gekry," vertel Marí.

Asperger-sindroom is gedurende Mari se gr. 8-jaar by haar gediagnoseer.

Volgens haar was die Asperger-sindroom-simptome nog altyd daar, "maar almal het altyd gedink dit is omdat ek 'n introvert is".

"Ek het baie goed klaargekom op skool. Ek was in die laerskool in die topvyf en ek kon lekker met my vriende sosialiseer. Maar as ek net te skaam is vir iets, dan sou ek sê dit is omdat ek 'n introvert is.

"Ek het vriende gehad met wie ek lekker gesosialiseer het. Puberteit was vir my 100 maal erger as vir my maats, of so het dit gevoel. Ek het my ál meer eenkant gehou en sosialisering was vir my moeilik en niks lekker nie. Ek het altyd gevoel ek pas nie in nie. En partykeer het dit weer gevoel ek is oukei.

"Omdat ek aan die Swartland-swemklub behoort, het my afrigter en my ma dit goedgedink dat ek 'n terapeut moet begin sien, veral omdat ek deur puberteit gegaan het en dat ek dalk ook oor my angs kan gesels. Iewers gedurende die Covid-19-pandemie se grendeltyd het my terapeut aan my gesê sy dink ek is dalk op die spektrum en ek vul baie van die boksies. Onmiddellik het ek toe 'n verklaring vir my optrede en ervarings en sien dit toe in 'n heel ander lig," verduidelik sy.

Volgens Marí wou sy eers nie die diagnose­ aanvaar nie. "Ek het gedog ek is net 'n introvert wat sensitief is. Ek het iets wat al wetenskaplik nagevors is. En die feit dat hulle dit 'n sindroom noem, het my laat dink ek behoort eintlik in 'n ander klas saam met die ‘spesiale kinders'.

"Ek het ook nie eintlik geweet wat dit is nie, maar ek het al mense ontmoet wat my ma gesê het Asperger-sindroom het. Vir my het die persoon net vreemd opgetree. Ek het toe gedink Asperger-sindroom is iets wat maak dat mense vreemd optree.

"Daar was iemand wat aanmekaar vir jou stywe drukkies gee wanneer julle ontmoet - ek het haar veroordeel. Ek het gedink sy is eienaardig en toe vind ons uit ek het Asperger-sindroom. Maar ek het soos ek ouer geword het, dit aanvaar want sindroom is maar net 'n woord.

"Een van my maats kon dit nie glo toe ek sê ek is op die spektrum nie. Ek lyk op die oppervlak soos 'n gewone mens."

Om skoolklere te dra het in gr. 10 vir Marí 'n probleem geword.

"Dit het gevoel die das om my nek wurg my dood. Ek kon nie ophou kriewel nie en het vreeslik ongemaklik gevoel.

"My skoolhoof en personeel het dit raakgesien en my toestemming gegee om met sportklere skool toe te kom. Dit was vir my 'n groot verligting, maar ek was ook bietjie skaam dat ek die voorreg gehad het om nie meer skoolklere aan te trek nie.

"Ek moes net prysuitdeling toe gaan met skoolklere, gelukkig sonder die das!"

"Ek dink my ma het vir die skool sonder my medewete gesê dat ek Asperger-sindroom het, want die skoolhoof het baie begrip getoon vir my situasie. Hoërskool Dirkie Uys is 'n klein skool met 'n groot hart. Almal hier gee om vir mekaar."

Marí vertel dat sy oor die jare ook met angs gesukkel het, maar dit gaan nou baie beter.

"Die angs het begin met my swem in graad 9. My terapeut het gesê dit is prestasie-angs. Mense se prestasievlakke fluktueer en ek wou dit nie aanvaar nie. Ek wou steeds baie goed presteer. Ek hou daarvan om te presteer, want dan word jy gesien en dan word jy as belangrik geag.

"Ek weet nie hoe ek met die angs klaargekom het nie, maar gelukkig kon ons met terapie en medikasie my angstigheid beheer."

Marí het ook haar ouma, met wie sy 'n hegte verhouding gehad het, nét voor die begin van die eindeksamen verloor.

"Ek treur oor haar op my eie manier en op my eie tyd. Gelukkig kon ek fokus op my eksamen, want ek dink sy sou wou hê ek moet haar onthou as die jolige ouma - gesond en gelukkig.

"Ek weet waar sy is, en dis presies hoe sy nou is, weer my jolige en gesonde ouma. Die feit dat haar swart labrador, Cola, nou by ons bly, en ek sy nuwe ounooi is, is vir my 'n groot troos en gerusstelling en het my hartseer oor my ouma verlig," sê sy.

Marí is opgewonde om vanjaar politiek, filosofie en ekonomie aan die Universiteit van Suid-Afrika te studeer nou dat sy matriek met twee onderskeidings en toelating tot graadstudies geslaag het.

SPELETJIES VANDAG

CTA