Matrieks

Dié matrieks in Bloem voel goed

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Matrieks aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein Dinsdag nadat hulle die eerste ekonomie-vraestel geskryf het. Voor van links is Marnus Potgieter en Alexander Leak, terwyl hul klasmaats Zander Strauss, Jurie Human, Henry Goosen en Juandré Jordaa
Matrieks aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein Dinsdag nadat hulle die eerste ekonomie-vraestel geskryf het. Voor van links is Marnus Potgieter en Alexander Leak, terwyl hul klasmaats Zander Strauss, Jurie Human, Henry Goosen en Juandré Jordaa

Matrikulante aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein voel goed oor Dinsdag se eerste ekonomie-vraestel en meen dit was makliker as in die rekordeksamen.

Dié vraestel van twee uur lank vir 150 punte oor makro-ekonomie en ekonomiese strewes het hulle nie ondergekry nie.

Die werk handel onder meer oor die ekonomiese kringloop, sakesiklusse, die rol van die openbare sektor, die buitelandse valutamark, en ekonomiese groei en ontwikkeling.

Vraag een (afdeling A) van die vraestel is verpligtend, terwyl leerlinge in afdeling B twee van drie vrae moet beantwoord, en in afdeling C een van twee langvrae.

Zander Strauss sê die vraestel was makliker as verwag en makliker as in die rekordeksamen.

Die vraag (vraag 3.5) waar leerlinge Suid-Afrika se beleid vir streeksontwikkeling ten opsigte van die internasionale kriteria moes evalueer, was vir hom die moeilikste. Dit het agt punte getel.

"Dié werk is baie meer interpretasie. Jy kan nie regtig leer vir dié vrae nie. Jy moet dit net verstaan."

Die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein se matrieks was Dinsdag in 'n goeie bui nadat hulle die eerste ekonomie-vraestel afgelê het. Van links is Kristineque Bester, Zander Strauss, Jurie Human, Henry Goosen, Juandré Jordaan, Marnus Potgieter en Alexander Leak. Foto: Mlungisi Louw
Die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein se matrieks was Dinsdag in 'n goeie bui nadat hulle die eerste ekonomie-vraestel afgelê het. Van links is Kristineque Bester, Zander Strauss, Jurie Human, Henry Goosen, Juandré Jordaan, Marnus Potgieter en Alexander Leak. Foto: Mlungisi Louw

By vraag 4.2.3, waar die term "outonome verbruik" vir twee punte beskryf moes word, het hy geraai omdat hy nog nooit daarvan gehoor het nie.

Vraag een was makliker as wat hy verwag het. Vraag ses, die langvraag wat hy beantwoord het oor ekonomiese strewes, was vir hom "onmenslik maklik".

Die langvraag tel 40 punte.

Leerlinge moes daar die Suid-Afrikaanse groei- en ontwikkelingsbeleid en strategiese inisiatiewe sedert 1994 bespreek. Hulle moes ook sê hoe die land maatreëls aan die aanbodkant kan gebruik om ekonomiese groei en ontwikkeling te bevorder.

Die vraestel het Henry Goosen ook nie laat frons nie.

"Dit was omtrent wat ek verwag het. Ek het 'n gevoel gehad dit gaan 'n bietjie meer billik wees as die rekordeksamen, wat vir my moeiliker was.

"Ek het genoeg voorberei om goed te doen in die vraestel."

Henry het ook oor vraag 3.5. kopgekrap.

Vraag 4, 'n mengsel van makro-ekonomie en ekonomiese strewes, was vir hom baie lekker.

"Dit was alles presies soos ek geleer het."

Hy is tevrede met die langvraag wat hy beantwoord het, vraag ses, en verwag 'n relatief goeie punt daarvoor.

Henry sê hy het te veel tyd aan afdeling B bestee, en het net 20 minute vir sy langvraag oorgehad. Hy kon net betyds klaarmaak.

Alexander Leak reken ook die rekordeksamen was effens moeiliker.

"De vraestel was op standaard en nie onnodig moeilik nie. Ek kan nie sê daar was enigiets onbillik nie, behalwe een vragie. Ek het nog nooit van ‘outonome verbruik' in my lewe gehoor nie," sê hy van Dinsdag se vraestel.

"Vraag 2 oor makro-ekonomie was ongelooflik lekker. Ek het die meeste van daardie werk geleer en ek verstaan dit die beste."

Alexander sê die langvraag was fantasties. Hy het vraag vyf beantwoord, waar die kenmerke onderliggend aan vooruitskatting van sakesiklusse bespreek moes word. Die uitdagings wat 'n ekonomiese resessie vir die verskillende deelnemers in die ekonomie skep, moes ook ontleed word.

Matrieks skryf Dinsdag om 14:00 die tweede ekonomie-vraestel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM