Tanya Kruger (18) van die Hoërskool Pietersburg (PHS) in Polokwane is een van Limpopo se toppresteerders in die 2022 matriekeindeksamen.
Die slimkop gaan vanjaar medies aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy gaan in die Curlitzia-koshuis woon.

Lewenswetenskap was haar gunstelingvak in gr.12, maar sy het ook uitgeblink in haar ander ses vakke.
Sy spog met onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, geskiedenis, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.
"Ek is passievol oor die menslike anatomie en is baie geïnteresseerd in biologie. Ek het ook 'n baie groot liefde vir wiskunde en fisiese wetenskap."
Tanya het in haar matriekjaar dit geniet om aan verskeie kultuuraktiwiteite, waaronder debat, redenaarskompetisies, die spelfees en die revue deel te neem. Sy het ook op die leerlingraad gedien.
"Ek het 'n baie groot liefde vir musiek. Ek speel kitaar, sing en skryf ook musiek as deel van my stokperdjies."
Tanya sê sy het van jongs af geweet sy wil in 'n mediese rigting studeer. "Ek het eers getwyfel of ek tandheelkunde of medies wil studeer, maar toe ek besluit het op medies, het ek nooit weer teruggekyk nie."
Haar lewensfilosofie is dat "alles vir 'n rede gebeur, daarom moet 'n mens positief bly en op die Here se plan vir jou lewe vertrou."
Sy glo dat die jeug 'n toekoms in Suid-Afrika het. "Met die liefde wat ons vir ons land het, is dit altyd moontlik om Suid-Afrika op te bou."
Tanya se grootste rolmodelle is haar ouers. Haar pa, Johan, is 'n ekoloog en haar ma, Vanessa, is 'n finansiële adviseur.
"Hulle het my geleer dat 'n mens nooit in die lewe moet moed opgee nie en dat jou heel beste altyd goed genoeg is."

















