Matrieks

Doné voel die mediese wêreld is haar roeping

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Volg jou hart met oorgawe.

Dít is die lewensleuse van Doné Neethling (18) wat in 2022 een van die Hoërskool Pietersburg (PHS) in Polokwane, se toppresteerders was.

Doné Neethling (18) was in 2022 een van die Hoërskool Pietersburg in Polokwane se topmatriekpresteerders.
Doné Neethling (18) was in 2022 een van die Hoërskool Pietersburg in Polokwane se topmatriekpresteerders.

Sy gaan nou medies aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Sy spog met onderskeidings in ses vakke.

Haar gunstelingvak was lewenswetenskap. "Lewenswetenskap stel nooit teleur om my belangstelling te prikkel nie."

Doné het op die leerlingraad gedien en sy was ook deel van die skool se akademiese komitee.

In haar vrye tyd geniet sy dit om te draf, veral op die gesin se plaas in Limpopo.

Sy teken ook vir ontspanning.

Doné sê sy was bevoorreg om in haar matriekjaar te kon sien hoe 'n breinoperasie in 'n private hospitaal in Polokwane gedoen is.

"Dit het opnuut my waardering vir die mediese veld en menswees wakker gemaak."

Sy sê om 'n dokter te word, sal vir haar 'n voorreg wees, omdat sy met mense sal werk wat op hulle kwesbaarste is.

"Dit is vreemd vir my dat meeste mense hospitale vereenselwig met hartseer en verlies. Dit is ook 'n plek van nuwe lewe, hoop, genade en wonderwerke. Dit hang alles af hoe mens daarna kyk. Ek het besluit dit is die manier waarop ek gaan kyk na my droom om 'n dokter te word."

Doné glo dat mens altyd jou hart met oorgawe moet volg en "die hekkie aspris oop los vir jou drome."

Die aktrise, Simoné Pretorius (Nortmann), is Doné se rolmodel. "Sy het my geleer om die avontuur in elke toets raak te sien, dat 'n mens se foute jou juis 'n mens maak en dat 'n mens altyd jou drome moet najaag."

Doné glo daar is 'n toekoms vir die jeug in Suid-Afrika. "Ek weet ons land het 'n baie seer verlede, maar ek glo dat die jeug 'n wilde veldbrand van hoop sal versprei. Ons ken uitdagings soos mense van geen ander land dit ken nie. Ek sien die teken van hoop in vandag se jeug."

  • Doné het onderskeidings verwerf in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM