Bennie Badenhorst (18) van die Hoërskool Douglas in die Noord-Kaap, wat agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal het, wil graag eendag sy eie onderneming begin nadat hy klaar gestudeer en werkondervinding in sy veld opgedoen het.
Bennie gaan vanjaar met sy studie in rekenaarwetenskap en wiskunde aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom begin.

"Nadat ek dit voltooi het, sal ek graag nog verder wil studeer en my goed kwalifiseer. Ek wil dan ondervinding opdoen en moontlik my eie onderneming begin."
Hy sê die eindeksamen was nie so erg nie.
"Ek dink as 'n mens jonger is, lyk die eindeksamen vir jou soos 'n verskriklike ding, maar eintlik is 'n mens al so ingeoefen wanneer die tyd aanbreek dat dit nie so uitdagend is nie."
Bennie het Donderdag voordat die uitslae bekend geword het, gesê hy hoop hy het onderskeidings in al sy vakke behaal.
"Ek het darem in al die vorige eksamens daarin geslaag."
Hy het inderdaad daarin geslaag om in die eindeksamen die rekord te behou en onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskap, fisiese wetenskap en landbouwetenskap behaal.
Bennie se liefde vir wiskunde het hy sonder twyfel van sy ma, Welma, 'n wiskundeonderwyseres aan die Hoërskool Douglas, gekry. Sy pa, ook Bennie, werk vir GWK op die dorp.
Sy raad aan 2023 se matrikulante is om hard te werk, maar een dag op 'n slag aan te pak.
"Alles sal uitwerk soos dit moet en dit is belangrik om op die Here te vertrou."



















