Matrieks

‘Fisika-vraestel het verrassings bevat, maar goed verloop’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vrydag se fisika-vraestel het ondanks 'n paar verrassings goed verloop, sê matrikulante aan die St. Andrew's School in Bloemfontein.

Die eerste fisiese wetenskappe-vraestel het hoegenaamd nie hul moed vir Maandag se chemie-vraestel gebreek nie, maar het hulle op plekke behoorlik laat kopkrap.

Matrieks aan die St. Andrew's School in Bloemfontein Vrydag nadat hulle die fisika-vraestel geskryf het. Van links is Jaco Jordaan, David Lombard, Muhammad Cassim en Josh Horak.Foto: Mlungisi Louw
Matrieks aan die St. Andrew's School in Bloemfontein Vrydag nadat hulle die fisika-vraestel geskryf het. Van links is Jaco Jordaan, David Lombard, Muhammad Cassim en Josh Horak.Foto: Mlungisi Louw

Die fisika-vraestel handel onder meer oor momentum en impuls, vertikale projektielbeweging, Newton se tweede bewegingswet in terme van momentum, die arbeid-energie-stelling, die Doppler-effek, elektriese stroombane, elektrostatika en die foto-elektriese effek.

Daar was 'n vraag of wat oor die arbeid-energie-stelling, die elektriese stroombaan en die foto-elektriese effek, waar hulle ernstig moes dink of wat hulle nog nie in ou vraestelle teëgekom het nie. Dié leerlinge verwag egter steeds goeie punte.

Sommiges sê die vraestel was makliker as dié van die rekordeksamen, terwyl ander meen dit was op dieselfde vlak.

"Dit was goed, daar was een of twee vrae wat iffy was, maar ek het gesit, gedink en uiteindelik die antwoord gekry.

"In die algemeen was dit 'n baie lekker vraestel. Ek het dit baie geniet," sê Jaco Jordaan.

Hy sê dit was een van die makliker vraestelle vergeleke met die 12 ander wat hy ter voorbereiding uitgewerk het. Hy het die drie uur lange vraestel binne die helfte van die toegelate tyd voltooi.

Jaco sê vraag 5.4 by arbeid-energie-stelling, wat vyf punte getel het, het hom behoorlik laat dink. Hy het nog nie só vraag in vorige vraestelle gesien nie.

Volgens hom het dit drie afsonderlike berekeninge geverg om uiteindelik die antwoord te kry. Gegewens van die hoek wat benodig word om die som te bereken, word gewoonlik verskaf.

Vraag 10.4 (van vier punte) by die foto-elektriese effek waar die minimum getal ligfotone wat die katode in 'n periode van tien sekondes tref, bereken moes word, sê hy dit was moeilik, dog interessant. Hy glo hy het die regte antwoord bereken.

"Die elektrostatika, vraag 7, was verskriklik maklik."

David Lombard sê dit het goed gegaan en die vraestel was meestal maklik. Dit was vir hom makliker as dié van die rekordeksamen.

"Vraag 5.4 was aan die begin moeilik, maar dis lekker as jy die antwoord kry. Dit laat jou regtig voel of jy daarvoor gewerk het," sê David.

Hy sê hy het nog nie 'n vraag soos 10.4 in 'n ou vraestel gesien nie.

"Dié vraag was in 'n mate lekker, ek het net 'n dom fout aan die einde gemaak."

Josh Horak, wenner van vanjaar se Matrikulant van die Jaar-kompetisie, sê die vraestel het nie wonderlik verloop nie.

"Ek gaan oukei vaar, dit gaan nie wonderlik wees nie, dit gaan nie soos 100% wees nie."

Josh sê dit was baie maklik om punte by die laervlak-vrae bymekaar te maak en baie moeilik om punte by die hoëvlak-vrae te kry.

Hy sê daar was 'n paar vrae van 'n baie hoë vlak.

Vraag 5.4 was vir hom effens moeilik en het 'n bietjie langer as gewoonlik geneem. Hy het ook nog nie só vraag gesien nie, ook nie vraag 10.4, 8.4 en 8.5 nie.

Dié vrae was vir hom baie moeilik en het meer insig geverg, sê Josh.

Die vraestel was wel vir hom op dieselfde vlak as in die rekordeksamen.

"Dit het taamlik goed gegaan, die vraestel was billik," sê Muhammad Cassim.

Die vraestel se hoëvlak-vrae was effens moeiliker as in die rekordeksamen en die laervlak-vrae makliker.

"Die elektriese stroombaan was verreweg die maklikste deel van die vraestel en ook baie interessant omdat 8.4 baie dinkwerk geverg het."

Die moeiliker vrae was vir 5.4 en 10.4. Hy het egter die hele vraestel beantwoord, waaroor hy baie tevrede voel.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM