Toe Gavin Smith (19) op 10-jarige ouderdom na die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle is omdat sy ouers weens persoonlike redes nie na hom kon omsien nie, was hy gebreek.
"Dit was 'n bitter moeilike tyd. Ek het om my gekyk en dinge gesien wat ander het en wat ek nie het nie. Ek het besef ek het niks nie."
Maar weens sy innemende persoonlikheid het hy vinnig vriende gemaak wat alles wat hulle kon met hom gedeel het, en al waaraan Gavin kon dink, was hoe dankbaar hy is. Vandag nog is alles wat hy doen uit dankbaarheid en met dryfkrag.
"Want daar is niks wat jy nie kan doen as jy daarvoor werk nie," sê Gavin, wat hom vanjaar by die Sharks-akademie aangesluit het. Danksy die rugbyspan se ondersteuning kan hy onderwys studeer terwyl hy elke dag sy passie uitleef: rugby.
Die Sharks het hom al op skool raakgesien en in 2022 betaal om in die jaarlikse Limpopo VKB-rugbyweek in Reitz te speel. Dié onderhoofseun van die Hoërskool Nylstroom het sy merk as flank en binnesenter gemaak, en is in September verlede jaar saam met die o.19 AVS Bokkespan Spanje toe.
"Ek kan nie glo ek het die kans gekry om uit die land te kom en boonop Spanje toe te gaan nie. Ek het nooit gedink ek sou so 'n kans kry nie. Om die geboue te kon sien, was 'n absolute belewenis," sê Gavin op sy gelykmatige manier.
Hy ken van deurdruk deur swaarkry. Of dit nou die matriekeksamen is waar hy met universiteitsvrystelling geslaag het, en of dit is om met 'n gebreekte kakebeen op die veld uit te draf.
"Ek het eers gedink my kakebeen het maar net 'n knock gevat, maar toe dit seer bly, vra ek om dokter toe te gaan. Dis toe gebreek," vertel hy asof dit sommer niks was nie. Want vir Gavin is geen uitdaging te groot nie.
"Ek glo en ek weet ek gaan eendag 'n Springbok-trui oor my kop trek. Ek wil ook in 'n wêreldbeker speel. Ek kan net dankie sê vir al my onderwysers en mense langs die pad wat my gehelp het.
"Ek wil so goed doen dat ek vir die Sharks gaan speel, en dan die Springbokke. Ek wéét dit, en ek wéét dis harde werk. Maar ek kan."




















