Matrieks

Gemengde gevoelens oor 2de wiskundevraestel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Matrikulante het Maandag hul tweede vraestel in wiskunde en wiskundige geletterdheid geskryf met van die wiskundevrae wat vir sommige leerlinge 'n uitdaging was.

Matrieks aan die Hoërskool Linden in Randburg bestempel sommige vrae as maklik en ander as baie moeilik.

Franco Vosloo (18), hoofseun van die Hoërskool Linden in Randburg. Foto: Melinda Stuurman
Franco Vosloo (18), hoofseun van die Hoërskool Linden in Randburg. Foto: Melinda Stuurman

Franco Vosloo (18), die hoofseun, het wiskunde geskryf en aan Netwerk24 gesê dit het oor die algemeen goed gegaan.

"Die eerste deel van die vraestel was nie te moeilik nie, maar die laaste twee vrae was nogal moeilik en 'n mens moes mooi dink om by die stellings uit te kom."

Franco beplan om volgende jaar medies aan die Universiteit van die Witwatersrand te studeer.

Vir Bernard Greeff (18) was dié wiskundevraestel " 'n riller" in vergelyking met die eerste een.

"Ek is bly ek het taamlik vinnig geskryf, want die laaste vraag het my omtrent 'n halfuur gevat."

Bernard gaan chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer.

Anika Oosthuizen (18) sê dit was moeiliker as die ou wiskundevraestelle wat sy uitgewerk het.

"Ek het van 2014 af se vraestelle uitgewerk. Die eerste paar vrae was vir my maklik, maar hier by vraag 9 en 10 het ek nie regtig geweet wat om te doen nie."

Anika gaan 'n BSc-graad in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Ané Dannhauser (18) Foto: Melinda Stuurman
Ané Dannhauser (18) Foto: Melinda Stuurman

Vir Ané Dannhauser (18) was dit 'n goeie wiskundevraestel, maar van die vrae was moeilik.

"Gewoonlik is ek nie so voorbereid soos wat ek vandag was nie. Ek het baie van die ou vraestelle van die afgelope paar jaar uitgewerk, maar dit was nie so moeilik soos party van die vrae wat vandag gevra is nie. Jy is veronderstel om makliker te skryf as jy voorbereid is, maar dit was nie vandag die geval nie."

Ané wil graag Amerika toe om 'n tennisloopbaan te volg.

Andile Zitha (18), wat wiskundige geletterdheid geskryf het, sê die vraestel was baie goed.

"Dit het beter gegaan as vraestel een. Ek het gesukkel met een of twee vrae. Ek het twee oopgelaat en later weer teruggegaan. In vergelyking met die ou vraestelle wat ek uitgewerk het, was dit op dieselfde standaard, maar baie makliker."

Jordyn Farah en Andile Zitha bespreek die vraestel in wiskundige geletterdheid wat hulle Maandag geskryf het.  Foto: Melinda Stuurman
Jordyn Farah en Andile Zitha bespreek die vraestel in wiskundige geletterdheid wat hulle Maandag geskryf het. Foto: Melinda Stuurman

Andile wil 'n maatskaplike werker word en gaan volgende jaar aan die UP studeer.

Jordyn Farah (18) stem saam dat die tweede vraestel in wiskundige geletterdheid baie maklik was.

"Ek het nie regtig met enigiets gesukkel nie - dit was 'n goeie vraestel."

Hy beplan om opvoedkundige sielkunde aan die UP te studeer.

Netwerk24 het vroeër berig dat matrikulante aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria hul eerste wiskundevraestel as "redelik maklik" beskryf het.

Rasaad Adams

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM