Met bendegeweld en dwelmmisbruik wat sy rondom haar sien gebeur, het die 18-jarige Aliyah September besluit dat sy glad nie daarin wil verval nie.
Dié gewese matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch het eerder op haar skoolloopbaan gefokus sodat sy 'n sukses van haar lewe kan maak.
"Ek sien die goed hier rondom my gebeur, maar ek het besluit om nie soos ander te wees en betrokke te raak nie.

"Ek het myself gemotiveer om net op my skool te fokus en gelukkig het ek my familie wat my ondersteun.
Sy het matriek met twee onderskeidings geslaag.
Aliyah, wat in Cloetesville woon, sê sy het ook nie toegelaat dat die omstandighede haar studie beïnvloed nie.
"Wanneer jy dit toelaat, skiet jy jouself in die voet. Ek weet wat die nagevolge is wanneer jy toelaat dat buite-elemente jou toekoms beïnvloed. En dit is iets wat ek glad nie vir myself wou hê nie. Jou ingesteldheid moet so wees dat jy nie in sulke strikke moet trap nie.
"Ek het elke dag hard gewerk om te kom waar ek vandag is, en dit is waaraan ek vasgehou het. Ek glo ook dat die mense wat vir jou omgee, nie wil hê dat jy van die pad afdwaal nie."
Volgens Aliyah is dit deursettingsvermoë wat haar deur die jaar gehelp om dit te bereik wat sy wou bereik.
"Soms is dit moeilik om die doelwit te bereik wat jy vir jouself daargestel het en dis nie altyd maklik om dit te bereik nie. Maar as jou ingesteldheid reg is, kan jy dit bereik."
Sy wil graag ook vanjaar se matrikulante bemoedig deur nie tou op te gooi wanneer dinge moeilik raak gedurende die jaar nie.
"Baie van ons het rolmodelle en hulle is suksesvol. Dit behoort jou motivering te gee om alles in te sit dié jaar.
"Maar wees dié jaar ook geduldig met jouself en leer jouself ken, want dit is jou laaste jaar op skool. En moenie jou geestesgesondheid afskeep nie."
Volgens Aliyah was haar matriekjaar een van die uitdagendste, maar ook haar beste jaar op Bloemhof.
"Dit is vir my 'n groot eer om te weet ek dat ek in matriek kon wees. Ander bereik dit nie. Alhoewel die jaar baie uitdagings gehad het en jou soms wou laat tou opgooi, het ek die beste van die situasie gemaak en my alles gegee."
Sy sê sy gaan vanjaar onderwys aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
"Ek het 'n groot passie en liefde vir kinders. Ek sien uit daarna om te groei en suksesvol te wees, asook om my familie trots te maak."




















