Matrieks

Gratis hulp vir matrieks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vanjaar se matrieks het vir twee jaar lank weens Covid-19 nie 'n volwaardige eksamen afgelê nie. Kuier het onderwysers se noodkreet gehoor en bied gratis hulp aan om leerders te help voorberei.

Die matriekklas van 2022 gaan een van die belangrikste eksamens van hul skoolloopbaan aflê terwyl die Covid-19-pandemie hulle van twee jaar se oefening vir die skryf van volwaardige eksamens beroof het.

Matrikulante kan uitsien na videoklasse in Afrikaans wat deur ervare onderwysers, nasieners en kurrikulum-adviseurs aangebied word.

"Nes al die ander jare voor 2022, het Kuier die noodkreet gehoor, en bied ons vanjaar weer eens die Kuier Rapport Matriekklas 2022-projek in samewerking met die Rapport Onderwysfonds en Netwerk24 aan.

"Matrikulante kan uitsien na videoklasse in Afrikaans wat deur ervare onderwysers, nasieners en kurrikulum-adviseurs aangebied word," sê Ernusta Maralack, artikelredakteur by Kuier en projekleier van die Kuier Rapport Matriekklas.

Dié lesse is voor Netwerk24 se betaalmuur en ook beskikbaar op YouTube en die MySkool-kanaal. Al wat die leerlinge nodig het is internettoegang.

Rhuwayda Mitchell van die Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein. Sy is onderwyserkoördineerder van die projek. Foto: Roelse Events
Rhuwayda Mitchell van die Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein. Sy is onderwyserkoördineerder van die projek. Foto: Roelse Events

Duisende skoliere skakel in

Dis die derde jaar wat hersieningsklasse in die vorm van videoklasse aangebied word.

"Die syfers oor hoeveel leerlinge verlede jaar ingeskakel het op die videoklasse het ons verstom," sê Maralack. "Ek praat van views in die tienduisende en honderde ure se kyktyd."

"Die onderwysers is onder baie druk en kan nie individuele aandag aan elke kind gee nie, maar hierdie videoklasse maak dit amper 'n virtuele een-tot-een-sessie met die onderwysers," sê sy.

Rhuwayda Mitchell, departementshoof by die Hoërskool Bernadino Heights in Kraaifontein en onderwyserkoördineerder van die projek, kan nie genoeg beklemtoon hoeveel dié projek matrikulante kan help nie.

Sy werk saam met Ernusta om die videoklasse saam te stel sodat matrikulante moet weet waarop om te fokus.

"Voordat ons die vakke kies wat aangebied gaan word, word daar eers deeglike navorsing gedoen oor watter vakke die matrikulante van die vorige jaar swak of swakker in gevaar het."

Volgens Rhuwayda is van die grootste uitdagings vir onderwysers en matrikulante die feit dat die matriekklas van 2022 nog nooit 'n formele eksamen in die VOO-fase (Verdere Onderwys en Opleiding) geskryf het nie.

"Met die noodgedwonge besnoeide kurrikulum van 2020 en 2021 (in gr. 10 en 11) is baie werk uitgelaat.

"Leerlinge het baie begrippe nog nie onder die knie wanneer hulle in gr. 12 kom nie.

"Gr. 12-opvoeders moet baie inhaalwerk doen voor hulle kan hersien," verduidelik Rhuwayda.

Fokus op beantwoording

Die videolesse fokus op werk waarmee leerlinge klei trap én waar hulle baie punte kan behaal. Die moets en die moenies by die beantwoording van vraestelle word duidelik uiteengesit. Matrieks kan die lesse oor en oor kyk.

Oor die groep onderwysers wat vanjaar deel is van die Kuier Rapport Matriekklas 2022-projek kan Ernusta en Rhuwayda nie uitgepraat raak nie.

"Elke onderwyser is absoluut fantasties op hul vakgebied."

Rhuwayda sê elkeen van die betrokke onderwysers het 'n passie vir hul vakgebied. "Nie net beskik hulle oor jare se ondervinding nie, hulle is self leergierig en skerp hulself op in hul vakgebiede.

"Alle opvoeders sien die nasionale senior sertifikaat-eksamen na; is senior nasieners, hoofnasieners, vakadviseurs en leier-onderwysers; en is betrokke by die opstel van vraestelle."

¦ Tik die woorde Kuier Rapport Matriekklas in Netwerk24 se soekfunksie om die klasse te kry.

Tien tot 12 lesse

Agt vakke word gedek in die videoklasse van tussen tien en 12 lesse per vak. Elkeen is sowat 45 minute lank.

Die vakke is: Afrikaans huistaal; Afrikaans EAT; Engels EAT; wiskunde; wiskundige geletterdheid; fisiese wetenskappe; rekeningkunde; en lewenswetenskappe.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM