Ware sukses word nie bepaal deur struikelblokke nie, maar deur hoe jy kies om dit te oorkom.
Dit het Jessi Candace Phillips van die Hoërskool Franschhoek met glans bewys.
Met akademiese druk, ’n ernstige kniebesering en die uitdagings van matriek wat op haar pad gekom het, het sy met vasberadenheid, harde werk en geloof elke hindernis oorkom.
Prestasie in uitdagings
Jessi het oor die jare konsekwent uitgeblink.
“Ek het nog altyd goed gedoen op skool en myself telkemale in die toptien bevind,” sê sy.
Haar volgehoue toewyding het gelei tot die Dux-leierskapsprys en halwe erekleure vir akademiese prestasie.
Sy het twee maal deelgeneem aan die Saica-wiskundekampe, ’n intensiewe program vir top-matriekleerlinge in die Wes-Kaap.
Die verbetering in haar uitslae was so merkbaar dat die departement van basiese onderwys later ’n lenteprogram ontwikkel het.
“Hierdie erkenning het my geleer dat doelgerigtheid en deursettingsvermoë werklik beloon word, selfs wanneer omstandighede uitdagend raak,” sê sy trots.
Leierskap wat inspireer
Die Rotary Youth Leadership Awards (Ryla)-leierskapskamp het ’n keerpunt in haar lewe gebring.
“Dit het my geleer om ’n beter leier te wees deur groepaktiwiteite en vaardigheidsoefeninge,” vertel sy.
Die ervarings het nie net haar leierskapsvaardighede versterk nie, maar ook sterk vriendskapsbande geskep wat vandag nog voortduur. Hierdie nuwe selfvertroue het haar gehelp om een van tien lede van die gr. 12- uitvoerende raad te word.
“Ek wou ander inspireer en bydra tot ’n harmonieuse skoolomgewing,” sê sy trots.
Jessi se geduld is op die proef gestel met die Cangro-onderstebo-rooiappelkompetisie.
Vier jaar in ’n ry het sy ’n appel in ’n spesiale emmer versorg waaruit dit onderstebo groei, maar dan van nature opwaarts buig vanweë fototropisme. Die vierde keer het sy die kompetisie gewen.
“Dit was ’n lang proses wat baie geduld geverg het, maar die resultate was die moeite werd,” verduidelik sy.
Haar toewyding is beloon toe sy die kompetisie gewen het.
Die saailing wat sy ontvang het, simboliseer groei, volharding en die krag van geduld wat sy deur haar hele skoolloopbaan gedemonstreer het.

Die wending
Net toe sy volhard en na haar doelwitte streef, het sy haar knie seergemaak.
Op ’n gewone middag het sy ’n plof gehoor en kon sy die knie nie beweeg nie. Twee besoeke aan die hospitaal en fisio-afsprake het gevolg.
Met eindeksamens om die draai moes sy nie net akademiese druk hanteer nie, maar ook konstante pyn en beperkte mobiliteit.
“Ek het ure by my lessenaartjie deurgebring en gereeld opgestaan om my knie te ontspan, maar ek was vasbeslote om nie moed op te gee nie,” sê sy.
Die eindeksamens het haar uithouvermoë tot die uiterste getoets. Die pyn was ’n konstante metgesel, maar sy het haarself gedrewe gehou.
“Hierdie pyn is nie vir ewig nie, maar die uitslae sal wees.”
Haar vasberadenheid het oorwin. Die druk was intens, maar sy het dit nooit een oorweeg om moed op te gee nie.
Jessi se familie en vriende het haar deur die moeilikste dae gekry. “Hulle het my gemotiveerd gehou en my letterlik deur die moeilikste dae gesleep,” sê sy.
Hierdie netwerk het haar geleer dat sukses nie ’n solo-reis is nie, maar iets wat bereik word met die ondersteuning van mense wat regtig omgee.
Aan die einde van haar matriekjaar het Jessi die Absa-leierskapsprys ontvang.
Haar hoof het haar beskryf as ’n vaardige leerling en ’n ware ambassadeur vir die skool.
“Om te weet dat iemand gesien het hoe ek probeer om my skool ’n beter plek te maak was ongelooflik betekenisvol,” sê sy.
’n Blink toekoms
Jessi wil ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer. “Ingenieurswese help my om my vaardighede te gebruik en kreatiwiteit te kombineer,” verduidelik sy.
Haar ervaring met uitdagings en leierskapskampe het haar geleer wat dit beteken om ’n goeie leier te wees en dat deursettingsvermoë die sleutel tot sukses is.











