Skole in arm gebiede in die diep platteland het dikwels nie die hulpbronne wat ryker, meer stedelike skole het nie.
Hier is egter nie 'n tekort aan gemeenskappe, ouers en onderwysers wat groot opofferings maak om te verseker dat matriekleerlinge slaag en presteer om 'n goeie grondslag vir toekomsmoontlikhede te vestig nie.

"Ons kyk nie net vas in probleme nie, maar soek oplossings en leer ons kinders terselfdertyd om self die inisiatief te neem om probleme op te los en uitdagings te oorkom," sê 'n onderwyser by een van Noordwes se 92 skole waar matrieks gedurende die eindeksamen by sogenaamde skoolkampe tuisgaan.
Die kinders slaap, eet en studeer by dié "kampe" wat weens veiligheidsoorwegings gewoonlik in lokale of koshuise op skoolterreine ingerig word. Onderwysers help tot laat saans met studies en selfs oor naweke om die kinders te help voorberei vir die eksamen.
Mphata Molokwane, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, sê die doel met hierdie kampe is om veral kwesbare leerlinge by onderpresterende skole te help om deeglike hersiening van elke vak te doen voordat hulle eksamen skryf.
"Dit dra ook by tot die ontwikkeling van sosiale vaardighede onder die kinders. Die meeste van die bedrywighede by die kampe is daarop gemik om die kinders aan te moedig om te kommunikeer, te luister en as 'n span saam te werk."
Molokwane sê dis vir baie van die kinders die eerste keer dat hulle weg van hul ouerhuis onafhanklik moet funksioneer. Hul ouers is dus nie daar om hulle aan te sê om huistake en huiswerk te doen nie.
"Dis 'n goeie geleentheid om te leer om na hulself om te sien en onafhanklik te word. Die meeste van die leerlinge wat vir 'n verlengde tydperk van die huis weg is, reageer goed en ontwikkel hierdie onafhanklikheid.
"Hulle leer nuwe sosiale vaardighede wat hul selfvertroue 'n hupstoot gee, en word bedrewe om probleme op te los, verantwoordelikheid te neem en aan te pas by onbekende mense. Die kampe is dus emosioneel en intellektueel opbouend, terwyl die kinders ook morele lesse leer."
Lede van die skool se beheerliggame help omsien na die kinders deur onder meer vir hulle te kook. Die leerlinge mag ook net die kampterrein verlaat indien die kamphoof toestemming gee.
"Ons glo deur die matrieks tydens die eksamen onder een dak byeen te bring, is goed vir hul moraal - veral diegene wat deur die loop van die jaar onderpresteer het in sommige vakke," sê Molokwane. "Spesialiste in sekere vakgebiede, asook die bes presterende onderwysers van buurskole, help hierdie kinders met hersiening."
Die onderwyser wat betrokke is by so 'n skoolkamp, sê die eksamentyd daar is soos oral spanningsvol en dat beurtkrag 'n uitdaging is omdat baie van die skole nie alternatiewe bronne van krag het nie. Dan word daar maar planne gemaak om saans met selfoonliggies hersiening te doen.
"Ons moedig die kinders aan en sê dat ons saam in hierdie ding is en saam daardeur gaan kom. As onderwysers maak ons groot opofferings ten opsigte van tyd en om weg te wees van ons kinders. Ons doen alles moontlik om hierdie kinders te help slaag. Dis mooi om te sien hoe die kinders self hul wasgoed was en skoon en netjies bly."
• Die onderwyser se naam word weerhou omdat onderwysers nie amptelik met die media mag kommunikeer nie.



















