Matrieks

Hierdie kragman is sterk én slim

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

"Ek was 'n baie vet kind en ek wou beter lyk en in 'n poging om beter te lyk, het ek begin gewigoptel."

So sê Xander Nel (18), wat aan die Helpmekaar Kollege in Johannesburg gematrikuleer het. As 'n veelsydige sportman moes Xander al hoe meer afskaal met die sportkodes waaraan hy deelgeneem het om sy nuwe liefde vir gewigte te akkommodeer. Hy het in sy gr. 11-jaar intensief begin oefen.

Xander Nel in aksie op die wêreld­kampioenskap in Turkye verlede jaar.
Xander Nel in aksie op die wêreld­kampioenskap in Turkye verlede jaar.

Voordat hy die Suid-Afrikaanse kampioen geword het, het hy in 2021 saam met Joshua Capazorio, voormalige nasionale kragoptelkampioen, begin oefen.

Xander het op die Gauteng Classic and Equipped Power­lifting-kampioenskap, wat in Edenvale plaasgevind het, 'n naam vir homself opgebou waar hy vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap gekwalifiseer het.

Kort daarna het die kranige atleet 'n nasionale rekord op die SA Classic Powerlifting-kampioenskap in Fochville, Gauteng, verpletter. Hy het die nasionale rekord van 165,5 kg tot 172,5 kg verbeter.

Hy het ook op internasionale vlak deelgeneem en verlede jaar 'n agtste plek in die senior afdeling van die World Classic and Equipped Sub-Junior and Ju­nior Powerlifting-wêreldkampioenskap in Turkye behaal.

"Ek is verskriklik trots op daardie prestasie," sê Xander.

In sy matriekjaar het Xander besluit om sy akademie te prioritiseer. Hy is na die Statebondspele in Auckland, Nieu-Seeland, genooi, maar het besluit om die boeke eerder as gewigte op te tel. Die besluit het verseker dat die kragman met nege onderskeidings uit sy tien matriekvakke geslaag het.

Xander sê hoewel hy keuring gekry het om medies te studeer, het hy besluit om eerder aktuariële wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch te gaan swot.

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

Phiwokuhle Mothemela

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM