Die 13 525 matrieks wat verlede jaar die eindeksamen van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) afgelê het, het 'n slaagsyfer van 98,42% behaal. Dit sluit 12 580 voltydse en 945 deeltydse kandidate in.
Dié slaagsyfer is effens hoër as 2021 se slaagsyfer van 98,39%.
Dit is geregverdig om te sê dat die 2022-matrieks die hardste deur die impak van die pandemie getref is toe dit in 2020 in hul gr. 10-jaar begin het.
Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, sê in 'n verklaring dié prestasie van die 2022-matrieks is uitstekend.
"Dit is geregverdig om te sê dat die 2022-matrieks die hardste deur die impak van die pandemie getref is toe dit in 2020 in hul gr. 10-jaar begin het. Hierdie matrieks het dalk gesien hoe die vorige matrieks van 2020 en 2021 daarin geslaag het om hulle by die nuwe werklikheid aan te pas, maar hulle het op die meeste van hul gr. 10- en gr. 11-jaar uitgemis, wat fundamenteel belangrik vir sukses in hul matriekjaar is.
"Hulle moes hard werk om hul dryfkrag en uithouvermoë te behou en in baie opsigte diep delf om van die verlore tyd en ervarings in te haal. Die sosiale en emosionele impak van die pandemie op leerlinge kan nie geringgeskat word nie. Tydens inperkings en weens talle maatreëls oor sosiale afstande wat gehandhaaf moes word, was daar ook die afwesigheid van normale sosiale interaksie met vriende en deelname aan sosiale tiener-aktiwiteite.
"Die onderwysgemeenskap het uit sy pad gegaan om hierdie matrieks tydens die pandemie met verskeie strategieë, soos aanlyn onderrig, programme om lesse in te haal en naweekskool by te staan. Die IEB wens dié kandidate, hul onderwysers en ouers geluk vir 'n taak wat besonder goed gedoen is."
89,32% van dié groep matrieks het toelating tot graadstudie behaal teenoor 89,2% in 2021, 7,52% het vir toelating tot diplomastudie gekwalifiseer (7,82% in 2021) en 1,57% het toelating tot studie vir 'n hoër sertifikaat (1,37% in 2021) verwerf.
Die meeste matrieks (8 071) het in Gauteng die IEB-eksamen in 125 skole in dié provinsie afgelê.
KwaZulu-Natal beklee 'n tweede plek met 2 131 matrieks in 36 skole. Die Wes-Kaap is derde met 1 352 matrieks in 23 skole.
In die Oos-Kaap het 617 matrieks dié eksamen geskryf, 479 in Limpopo, 360 in Mpumalanga, 248 in Noordwes, 174 in die Vrystaat en 88 in die Noord-Kaap.
Daar het ook vyf matrieks die IEB-eindeksamen in Eswatini geskryf.

Daar was die jaar tevore 277 minder voltydse kandidate as in 2022 en 23 minder deeltydse matrieks wat die IEB-eksamen afgelê het. Dit is hoofsaaklik omdat sowat 500 matrieks van die buurlande Eswatini, Mosambiek en Namibië, wat voorheen die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen afgelê het soos aangebied deur die IEB, vir die nuwe eksamen van die IEB se Internasionale Sekondêre Sertifikaat (IEB ISS) geregistreer en dit geskryf het.
Die ISS is deur die IEB ontwikkel in reaksie op onlangse veranderings in Suid-Afrika se regulasies vir die NSS - dat dit nie meer aan onafhanklike skole buite Suid-Afrika se grense beskikbaar sal wees nie. Daarom het geen matrieks in Namibië en Mosambiek laas jaar die IEB-eindeksamen geskryf nie.
Plaaslik het die aantal kandidate wat die IEB NSS geskryf het met sowat 200 kandidate in Suid-Afrika toegeneem as gevolg van nuwe skole en 'n toename in die aantal kandidate binne skole wat die IEB-eksamen skryf.




















