Sy liefde vir plante en wetenskap het hom al die pad van Mpumalanga geneem om skouers te skuur met ander slimkoppe in Barcelona en Hongkong. NT Moolman van die Hoërskool Volksrust, sê hy is nog altyd lief vir tuinmaak en om eksperimente te doen. Dié liefde het daartoe gelei dat hy in sy gr. 11 en matriekjaar aan verskeie internasionale kompetisies deelgeneem (en uitgeblink) het.
In 2021 het hy aan die Eskom Ekspo, beide streeks en nasionaal, deelgeneem en goud verwerf in albei. In dieselfde jaar het hy aan die Imbewu Science Foundation se SAYESS (South African Youth Engineering and Science Symposium) se internasionale "science fair" deelgeneem en goud verwerf. Al hierdie ekspo's was aanlyn as gevolg van die Covid-19-inperkings.

NT is toe gekies om in Maart verlede jaar by die 23ste Exporecerca Jove XXIII by die Universiteit van Barcelona in Spanje te gaan deelneem.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring om te sien hoe ander mense hul projekte aanpak en aanbied. Die taalverskil het 'n interessante uitdaging aangebied en ek moes leer hoe om my projek op 'n nuwe manier te verduidelik," sê hy.
NT se projek het daarop gefokus om die "phyto"-chemiese plantekstrakte in onkruid te gebruik om vermorsing van vars produkte as gevolg van mikro-organismes te voorkom.
"Toe ek internasionaal aan kompetisies begin deelneem, moes ek my projek 'n bietjie aanpas om nog onkruidspesies in te sluit. Uiteindelik het ek sewe spesies gebruik wat op al die vastelande (behalwe Antarktika) voorkom."
Hy het in hierdie kompetisie 'n tweede plek in die internasionale afdeling behaal en is ook met 'n spesiale prys bekroon as die projek wat volhoubare ontwikkeling die beste bevorder het.
Eskom het vir NT gekies om aan die Hong Kong Ekspo (ook bekend as die Global Youth Science Technology Bowl of GYSTB) deel te neem. Hierdie ekspo was ook virtueel in Junie verlede jaar.
"My deelname het bestaan uit 'n hele paar onderhoude en aanlyn beoordeling van my projek. Ek het 'n silwer medalje gekry in die kategorie biologie en chemie."
NT het sewe onderskeidings behaal, maar gaan nie vanjaar dadelik universiteit toe nie. "Ek gaan 'n jaar by die Academy for Environmental Leadership SA in Upington deurbring. Dit is 'n jaar waar 'n mens meer leer oor die omgewing en sluit in veld- en laboratorium werk."
- NT het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskape, fisiese wetenskappe en rekenaartoepassingstegnologie behaal.



















