Matrieks

Joshua sê hy wil diere red

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wat begin het as 'n skoolprojek in 2018 het tot 'n oorsese reis en internasionale kompetisie gelei.

Joshua Coulson (18) het deur sy liefde en passie vir diere 'n formule ontwikkel wat spesifiek help met ondervoeding in honde.

Joshua Colson wil sy liefde vir diere uitleef en 'n veearts word.
Joshua Colson wil sy liefde vir diere uitleef en 'n veearts word.

"Dit was toe ek in gr.8 was, dit was deel van 'n jaarlikse projek wat ons graadgroep moes doen. Met die projek het ons twee opsies gehad waarvan ons kon kies. Ek het besluit om die moeiliker opsie te kies, omdat ek 'n produk wou ontwikkel wat volhoubaar is," sê Joshua, 2021 se hoofseun van die Hoërskool Eduplex in Pretoria.

Joshua se skool was so beïndruk met sy produk dat die skool hom na daardie jaar se Noord-Gautengse wetenskap-uitstalling by die Universiteit van Pretoria gestuur het. By die uitstalling het Joshua goud in die veeartswetenskap-afdeling gewen en deurgedring tot die nasionale ronde wat later daardie jaar plaasgevind het.

"Dit was wonderlik om my skool op nasionale vlak te kon verteenwoordig. Ek het baie leerlinge van ander skole daar ontmoet. Dit was vir my 'n nuwe ervaring omdat ek nog redelik jonk was."

Joshua het by die nasionale ronde ook met goud weggestap. In 2019 is hy gevra om Suid-Afrika in Amerika te gaan verteenwoordig. Hy het die gulde geleentheid aangegryp om sy projek by die Oswego-staatsuniversiteit in New-York bekend te stel.

"Dit was reeds so oorweldigend om my skool in Gauteng te verteenwoordig met leerlinge van al die ander provinsies. Verbeel jou hoe dit moes voel om nou met ander lande mee te ding. Ek het leerlinge ontmoet van Rusland, Indië, China en Japan. Dit was werklik 'n fantasties ervaring."

Volgens Joshua het die werklikheid hom eers getref toe hy die Suid-Afrikaanse vlag in Amerika moes waai.

"By die openingsgeleentheid het elkeen met 'n vlag van hul eie land gestaan. Dit is toe ek besef ek is hier om iets baie groter as net myself te verteenwoordig. Dit is 'n trotse gevoel wat ek nooit sal vergeet nie."

Joshua onthou ook hoe sy ouma hom daardie oggend voor die geleentheid gebel het. Haar woorde "seuna, jy het een geleentheid om vir die wêreld te wys wie jy is en waartoe jy in staat is" bly hom steeds by.

Joshua wil wil 'n veearts word en hoop om met sy studie aan die Universiteit van Pretoria te begin. Hy hoop om wel eers Sanparke se veldwagtersprogram te voltooi.

"Wat die program behels is dat jy as 'n veldwagter, hindernisse vir diere, asook die plantegroei in die wildtuin identifiseer."

Joshua het matriek met vrystelling vir graadstudies en onderskeidings Afrikaans eerste addisionele taal, besigheidsstudies, aardrykskunde, lewensoriëntering en lewenswetenskappe geslaag.

Rasaad Adams

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM