Kasper van Niekerk (18) van die Hoërskool Elspark in Germiston wil vanjaar "net 'n goeie mens" wees.
Hy het verlede jaar vyf onderskeidings in matriek behaal - Afrikaans eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie en lewenswetenskappe.
"Ek geniet inligtingstegnologie en lewenswetenskappe. Lewenswetenskappe help my om die mens beter te verstaan," skerts hy.
"Ek het eintlik nie 'n spesifieke droom of plan vir die komende jaar nie. Ek sal graag inligtingstegnologie wil studeer en goeie gewoontes vir die grootmenslewe aanleer."
Vir hom is die lewe amper soos Parton se eiland in sy gunstelingboek, Parton's Island deur Paul Darcy Boles.
In dié bildungsroman bou twee maats vir hulle 'n skuiling op 'n eiland in die Alabama-rivier in Amerika se Suide, terwyl hulle die oorgang van tieners na volwassenes beleef. Hulle word oorweldig deur die natuurskoon om hulle, maar ontdek ook die wreedheid van volwassenes toe hul eiland deur gulsige ontwikkelaars opgeraap word. Nietemin word die hoofkarakter, Paton Ninvale, nooit bitter nie.
Hy bewonder die karakter in die boek, vertel Kasper. "Hy is vriendelik en wys, en ek sal graag meer soos hy wil wees."
Tot nou toe het hy homself as 'n uitstaande matrikulant en jong mens bewys. Hy glo daarin om sy vriende sonder voorbehoud by te staan. Hy noem sy ouers as sy grootste rolmodelle - sy pa, Carl, het in 2021 sy nier geskenk aan Mari van Niekerk, sy niggie, wat aan lupus en nierversaking gely het.
Een van sy grootste uitdagings tydens sy matriekjaar was dat hy nie altyd al sy vriende wat moeilike tye beleef het, kon ondersteun nie. "Almal vind matriek veeleisend, dit verg energie. Ek is ongelooflik empaties, en as ek iemand nie kan bystaan nie, is ek teleurgesteld in myself."
Hy het ook geleer dat hy ook soms bystand nodig het.
"Ek moes steeds voluit werk, ten spyte van emosionele en fisieke uitputting." Soms wou hy opgee, maar dan het hy na sy vriende en familie uitgereik.
"Ek het besef: Dis beter om die lewe saam met ander aan te pak, want op jou eie is dit haas onmoontlik."





















