Matrieks

Kenna hou daarvan om probleme op te los

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wanneer Kenna Geleta (18) 'n probleem kan oplos, is hy in sy element.

Dis g'n wonder dat dié oudleerling van die Hoërskool Ferdinand Postma in Potchefstroom wik en weeg tussen rekenaarwetenskap, wiskunde en rekenaaringenieurswese as 'n toekomstige loopbaan. Kenna, wat ook in sy matriekjaar as die skool se Dux-leerling aangewys is, het onderskeidings in al sewe sy vakke behaal: Engels Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, fisiese wetenskap, inligtingstegnologie, wiskunde, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering.

Kenna Geleta
Kenna Geleta

Kenna se prestasies getuig ook van innerlike krag om aan te hou presteer ondanks moeilike omstandighede. Sy ma, Shashitu, is in November 2020 dood.

"Sy was vir omtrent vyf maande baie siek en het erg verswak," sê Kenna, wat toe in gr. 10 was. Hy is sy ouers se enigste kind. Sy pa, dr. Nemera Geleta, is 'n landboukundige en navorser by die Landbou Navorsingsraad in Potchefstroom. Kenna en sy pa het na Shashitu omgesien terwyl sy siek was. Kenna het weer eens 'n plan gemaak: Hy het sy skool gevra of hy kan voortgaan met sy skoolwerk, maar van die huis af. Die skool het ingestem.

"Dit het my gehelp om na my ma om te sien terwyl my pa by die werk is.

"Dit situasie het meer gefokus laat werk."

Kenna onthou hoe diep sy ma se dood hom geraak het. "Dit het my nogal teruggesit. Hoewel ons ver van ons naby familie in Ethiopië is, het ons groot waardering vir die ondersteuning wat ons gehad het van my skool, ons kerk en familievriende."

Sy ouers het in 2000, nog voor sy geboorte, uit Ethiopië na Suid-Afrika gekom. Hoewel sy ma se siekte en afsterwe 'n groot invloed op hom gehad het, vertel Kenna dit het hom geleer om homself goed te kan bestuur in uitdagende situasies. "Ek was baie gelukkig om so 'n ma te hê. Haar voorbeeld om in enige situasie sterk te wees, het my baie geleer."

Kenna se resep vir suksesvolle studie is om aandagtig in die klas te luister, te sorg dat jy al die werk verstaan en om die werk bietjies-bietjies op 'n slag te bemeester eerder as om op die nippertjie 'n magdom werk te probeer baasraak.

Hy het vóór die pandemie provinsiale klere in hokkie en krieket verwerf en muurbal vir sy skool gespeel. "Tydens die pandemie het ek baie tyd voor die rekenaar begin deurbring en as 'n stokperdjie begin programmeer," sê Kenna.

"In 2021 en 2022 is ek as provinsiale wenner in die Suid-Afrikaanse Rekenaarprogrammering Olimpiade aangewys. Nasionaal was ek albei jare onder die top10-presteerders."

Kenna was in Augustus 2022 een van net vier jong Suid-Afrikaners wat die land by die Internasionale Olimpiade vir Informatika verteenwoordig het. Die kompetisie waaraan honderde hoërskoolleerlinge van oor die wêreld heen jaarliks deelneem, het in Indonesië plaasgevind.

"Ons moes tydens die kompetisies algoritmes skryf om wiskundige probleme makliker en doeltreffender te kan oplos," verduidelik Kenna, wat ook sy hoërskool se leerlingraad gedien het.

Hy vertel hy is deel van 'n hegte groep vriende. "Selfs al is ek my ouers se enigste kind, voel ek danksy my vriende nooit alleen nie."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM