Die klas van 2023 is geloof vir hul slaagsyfer van 82,9% en vir die uitdagings wat hulle moes trotseer om dié mylpaal te bereik.
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdagaand aankondig dat die nasionale slaagsyfer 'n verbetering van 2,8 persentasiepunte was vergeleke met die vorige jaar se uitslae. Dié groep het ook meer universiteitsvrystellings en onderskeidings as ooit tevore behaal.
Die EFF het leerlinge gelukgewens met die belangrike mylpaal ondanks die uitdagings van beurtkrag op 332 van die 365 dae in 2023, saam met vervalle en oorvol klaskamers en onvoldoende toegang tot ordentlike drinkwater en sanitasie in skole.
Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder van onderwys, is veral bekommerd oor die groep leerlinge wat nooit eens die matriekeksamen afgelê het nie.
Volgens statistieke van die departement het net 715 719 van die 1 208 973 leerlinge wat in 2012 in gr. 1 was, in 2023 vir gr. 12 ingeskryf. Van hulle het 691 160 die eksamen geskryf en 572 983 het geslaag.

"Dit is uiters kommerwekkend dat soveel van die leerlinge uit die stelsel verdwyn het. Dit is 'n tendens wat jaarliks gesien word. Eerstens bewys dit dat die verlaging van slaagvereistes leerlinge nie oortuig om aan te hou om tot matriek skool te gaan nie.
"Tweedens is 'n groot aantal jong mense nie gereed om in diens geneem te word nie - selfs met matriek agter hul naam. Die swak gehalte van onderwys en die lae standaarde wat gestel word vir leerlinge om te slaag word daarvoor die skuld gegee."
Müller sê dit is noodsaaklik dat die departement van basiese onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos 'n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers en 'n tekort aan infrastruktuur te pak.
LEES OOK | Matriekklas van '23 ‘beste nog' - en dis g'n politiekery
Bax Nodada, DA-LP en die partywoordvoerder oor basiese onderwys, betwis egter die departement van basiese onderwys se slaagsyfer van 82,9%.
"Die ware matriekslaagsyfer is slegs 55,3%, 'n toename vanaf verlede jaar se 54,6%." Volgens hom hou die departement nie rekening met die 345 626 leerlinge wat tussen gr. 10 en matriek uitgeval het nie.
"Die werklike matriekslaagsyfer is 'n uitstekende aanduiding van nie net Motshekga en haar departement se gebrek aan sukses nie, maar ook van die land s'n. Hierdie ANC-regering se enigste fokus blyk kwantiteit bo kwaliteit te wees, met die mening dat dit 'n verbetering op vorige jare is. Hierdie skewe fokus op hoeveel leerlinge deur die stelsel gedruk kan word, moet geskrap word ten gunste van 'n fokus op die kwaliteit van vaardighede wat verwerf word."
Herman Mashaba, ActionSA se leier, skets 'n somber prentjie.
"Hoewel vandag 'n dag van vieringe behoort te wees, word baie jong mense deur 'n skrikwekkende toekoms in die gesig gestaar met 'n werkloosheidsyfer van 58% onder die jeug.
"Geleenthede om ná matriek te gaan studeer, is skaars, met onvoldoende tersiêre finansiering.
"Die departement van basiese onderwys misluk in sy fundamentele mandaat om jong mense te bemagtig met die nodige vaardighede om hul drome na te streef."
Mashaba sê die onderwysstelsel moet herstel word, want gehalte-onderwys is uiters belangrik om 'n beter toekoms te bou.
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en partywoordvoerder oor basiese onderwys, moedig diegene wat dit nie gemaak het nie aan om nie moed op te gee nie. Daar is nog 'n geleentheid met die sogenaamde tweede-kans-program.
Hy sê die werklike toets vir matriek is egter of suksesvolle matrikulante ook suksesvolle naskoolse studente, entrepreneurs, of toetreders tot die arbeidsmark is.
"Matriek is immers nie 'n doel op sigself nie, maar voorbereiding vir die res van die lewe."




















