Die standaarde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is steeds eersteklas. Dit is die versekering wat Kathy Verwey, voorsitter van die Kovsie Alumni-trust (KAT), gee vir voornemende studente aan dié Bloemfonteinse instelling.
Verwey, vanjaar die tweede keer as beoordelaar betrokke by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die UV, Netwerk24 en Volksblad, moedig topmatrikulante van oor die land heen aan om hulle vir die kompetisie, wat reeds meer as vier dekades aangebied word, in te skryf.
Die KAT dra R100 000 by tot die prysgeld van die 14 topmatrikulante.
Verwey beklemtoon dat die standaarde van die kompetisie net so hoog is. Deelnemers moet topstudente wees wat vertroue in hulself het om deel te neem. "Net so belangrik is dat hulle veelsydig moet wees. Die hoofkenmerk van die matrikulante in die topgroep is juis hul veelsydigheid," sê sy.
Verwey verwys ook na die diversiteit in die groep. "Die finaliste het vir jare ná die kompetisie interaksie met mekaar op kampus. Die paar dae wat die topgroep van 14 saam deurbring, laat hulle voel hulle ken reeds mense op kampus."

Gevolglik voel hulle minder vreemd wanneer hulle die volgende jaar vir hul studie aanmeld.
Volgens Verwey is die kompetisie goed georganiseer. "Daarsonder sou dit nie vir meer as 40 jaar bestaan het nie."
Twee van verlede jaar se finaliste, Dawie Botes (chemie en mikrobiologie) en Veliswa Black (rekeningkunde), is albei nog tevrede met die studierigtings wat hulle gekies het. Dawie, verlede jaar hoofseun van die Hoërskool Fichardtpark, sê hy het al heelwat interessante mense ontmoet. Hy en Veliswa, oudhoofmeisie van die Hoërskool Bloemfontein, het albei van hul laerskoolmaats in hul onderskeie klasse raakgeloop.
Selfdissipline is 'n groot vereiste vir universiteit, het Dawie uitgevind. " 'n Mens moet baie harder werk op jou eie. Vir die eerste keer maak ek lysies op my selfoon en merk die take af soos ek dit voltooi!"
Veliswa stem saam. " 'n Mens moet take skeduleer en daarby hou." Sy gaan selfs so ver om haar gesin te betrek met lysies op die yskas. "Dan kontroleer hulle of ek die take al afgehandel het!"
Skryf jou nou in
Veelsydige topmatrikulante wat akademies presteer en ook betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole en wat beoog om in 2023 heeltyds aan die UV te studeer, kan hulle nou vir die kompetisie inskryf.
Leerlinge kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet egter op die vorm aangebring word.
Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste wat uit die 25 gekies word, neem aan die eindronde van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein deel.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, die eindronde-geleentheid in Bloemfontein en geskenke ter waarde van R10 000.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwing.
Inskrywings moet die UV voor of op Vrydag 4 Augustus bereik.
Vir inskrywingsvorms of meer inligting, stuur gerus e-pos aan Linda Greyling na greylinl@ufs.ac.za.





















