Om te presteer in kragoptel is dalk nie bo-aan die meeste matriekmeisies se doen-lysie nie, maar dit is presies wat Surina Devnarain van Northcliff High in Johannesburg gedoen het.
Surina, dogter van die bekende akteur Jack Devnarain (hy was onder meer in Isidingo te sien), het verlede jaar met universiteitsvrystelling gematrikuleer.

"My pa en my broer is albei kompeterende kragoptellers. Ek het begin belangstel in die sport toe ek my broer gaan ondersteun het en sedertdien wou ek ook begin deelneem. Ek het aan die einde van 2021 saam met my afrigter met kompeterende oefening begin en aan die begin van 2022 aan my eerste kompetisie deelgeneem."
Surina vertel sy is mal oor die gevoel daarvan om swaar gewigte op te tel. "Ek hou van die opwinding van kompetisies en om te probeer om my eie persoonlike rekords te verbeter en medaljes te wen."
Tans is haar persoonlike rekords 100 kg in die hurksit, 46 kg in die borsopdruken in die dooiegewigoptel is dit 102,5 kg.
"My eerste kragoptel-kompetisie was die Gauteng Powerlifting-kampioenskap in Januarie 2022 waar ek my eerste goue medalje gewen het. Ek het toe gekwalifiseer vir die SA Powerlifting-kampioenskap wat in Maart plaasgevind het en goud gewen. Dit het veroorsaak dat ek vir die Wêreld- Junior en Sub-Junior Powerlifting-kampioenskap in Turkye gekwalifiseer het waar ek in September verlede jaar negende in my afdeling geëindig het. Om daar te wees was ongelooflik, want ek het saam met die beste in die wêreld deelgeneem."
Surina vertel dit was maar moeilik om haar sport en akademie in haar matriekjaar te balanseer.
"Ek het egter geleer hoe om my tyd te bestuur en by roosters te bly sodat ek genoeg aandag aan albei gee."
Sy sê sy gaan beslis aanhou met kragoptel en wil groei as atleet.
"Verlede jaar was maar my eerste jaar wat ek gekompeteer het, dis net die begin. Ek wil swaarder lig en hopelik eendag wêreldrekords laat spat! Enige meisie kan 'n kragopteller word solank jy toegewy is aan die sport. Fokus op jouself en moenie geïntimideer voel nie, want almal moet onder begin. Op die ou einde lig jy daardie gewigte as deel van jou eie persoonlike groei en reis in die sport."
Surina is nog nie seker wat sy vanjaar wil gaan studeer nie.
"Ek sal wel wil gaan studeer in 'n rigting waar ek meer oor anatomie kan leer. So kan ek 'n beter begrip hê en vir ander atlete, veral ander kragoptellers, help om uitstekend te presteer."


















