Mense

Rumé (17) hardloop 2 ou rekords aan flarde op Vrystaat-kampioenskap

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Op jul merke, gereed . . . Rumé Burger die naweek tree aan op die Vrystaat-atletiekkampioenskappe in Sasolburg. Foto’s: Verskaf
Op jul merke, gereed . . . Rumé Burger die naweek tree aan op die Vrystaat-atletiekkampioenskappe in Sasolburg. Foto’s: Verskaf

'n Superatleet van Bloemfontein het die naweek op die Vrystaat-atletiekkampioenskap vir hoërskole in Sasolburg stokou rekords aan skerwe gehardloop.

Rumé Burger (17), 'n gr. 11-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, spog nou met die o. 17-Vrystaatrekord in die 100 m wat 22 jaar lank gestaan het, en die 200 m, wat sedert 2008 gestaan het, agter haar naam.

Sy het onderskeidelik die vorige 100 m-rekord, wat voorheen 12 sekondes was, tot 11,70 sekondes verbeter en die 200 m-rekord met meer as 'n sekonde, van 24,87 sekondes tot 23,73 sekondes.

Sy het ook gehelp dat die o. 19- en die o. 17-aflosspan (4x100 m) hul wedlope in rekordtye wen, onderskeidelik 47,78 sekondes en 49,25 sekondes, lui 'n inskrywing op die skool se Facebook-blad.

Oranje het 29 goue medaljes en 'n totaal van 61 medaljes op die hoërskole-atletiekkampioenskappe - die meeste tot nog toe - ingepalm.

Die haastige Rumé Burger, wat die naweek twee ou rekords verbeter het.
Die haastige Rumé Burger, wat die naweek twee ou rekords verbeter het.

Rumé se jonger suster, Lilly, het self twee goue medaljes in o. 15-90 m-hekkies en -aflos gewen. Die twee Burger-sussies, dogters van die voormalige Blitsbok Philip Burger, het saam ses goues op die kampioenskappe gewen.

Rumé sê sy is baie opgewonde vir die SA's wat voorlê omdat sy al lank daarna uitsien, veral ná 'n besering in 2024. Sy voel sy het daarom baie om voor op te maak.

"Ek sien vreeslik uit na dié een wat voor lê. Ek glo en vertrou Jesus is saam met my."

Daarmee saam hoop, glo en vertrou sy om met dubbele goud terug te keer huis toe en om "natuurlik my persoonlike beste tye te probeer hardloop".

Die Burger-sussies, Rumé en Lilly.
Die Burger-sussies, Rumé en Lilly.

"Verder is ek net meer as dankbaar vir my Godgegewe talent, guns, Elinda Vorster, my ongelooflike afrigter, ondersteunende ouers, oumas, oupas, sussies, die skool en die hele Bloem-gemeenskap. Ek hoop om almal trots te maak."

Volgens Rumé is sy baie tevrede met haar prestasies van die naweek, al was die weersomstandighede (wind en hitte) nie goed nie. "My prestasie was goed genoeg vir my."

Sy sê die enigste ding wat deur haar kop maal voor 'n wedloop, is wat die tyd gaan sê.

"Al die werk is reeds gedoen en daarom probeer ek die kompetisie-dae net te geniet en stres ek nie daaroor nie. Dis net die adrenalien en verder geniet ek elke oomblik daarvan. Dis vir my net lekker op die dag."

Ter voorbereiding kry sy goeie slaap, eet gesond, luister lekker musiek en kry 'n goeie opwarming voor 'n wedloop in, sê Rumé.

Die voormalige Blitsbok Philip Burger en sy twee dogters, Lilly en Rumé.
Die voormalige Blitsbok Philip Burger en sy twee dogters, Lilly en Rumé.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM