Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het Maandag in haar toespraak aan die land se toppresteerders in die matriekeksamen gesê die klas van 2024, wat hul hoërskoolloopbaan tydens die Covid-19-pandemie begin het, het moeilike omstandighede trotseer.
Die topmatrieks is onthaal op 'n ontbytfunksie by die MTN-hoofkantoor in Fairland, Randburg.
Gwarube sê sy het in haar eie lewe die mag van onderrig beleef.

Volgens haar is gehalte-onderrig die hoeksteen vir verandering in die land.
"Ons sal dag en nag werk om te verseker dat elke leerling ‘n platform kry om hul lewe voort te sit," sê Gwarube.
Sy het benadruk dat die land mense nodig het wat etiese leierskap toepas.
Sy sê Afrika het ‘n jong bevolking, maar om die waarde daarvan te ontsluit, moet werk geskep word. Gwarube het aan die toppresteerders gesê die land se toekoms is in hul hande.
"Julle het die voorreg om die volgende hoofstuk van die land te skryf. Maak 'n impak soos julle vorentoe beweeg."















