Matrikulante van oor die land heen kry nou die laaste kans om hulle vir vanjaar se Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad in te skryf.
Die sluitingsdatum vir dié kompetisie vir veelsydige matrikulante wat van voorneme is om volgende jaar aan die UV te studeer, is eerskomende Vrydag, 2 Augustus. Moet dus nie die geleentheid misloop om deel te neem nie. Vorige deelnemers kan nie uitgepraat raak oor hoeveel dit vir hulle beteken het om finaliste in die kompetisie te wees nie. Die eindrondenaweek in Bloemfontein is gewoonlik die hoogtepunt waar nuwe vriendskappe gesmee word.
Leerlinge wat as finaliste in die kompetisie aangewys word, moet veelsydige, gebalanseerde jong mense wees wat op akademiese, leierskap-, kultuur- en sportgebied presteer.
Leerlinge kan hulself inskryf of hul skole kan hulle inskryf. Die vorm moet egter die handtekening van die skoolhoof en die stempel van die skool bevat.
Kandidate word beoordeel op grond van 'n stel kriteria wat oor jare verfyn is.
Hierdie kriteria bepaal die identifisering van 25 semifinaliste, waaruit eindelik 14 finaliste gekies word. Die eindronde vind plaas van 30 September tot 2 Oktober in Bloemfontein.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge: die Kovsie Alumni-trust, Forvis Mazars, Absa, en Pick n Pay Preller Walk. Daarbenewens word beurse van UV Studentewerwingsdienste toegeken, en geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.
Twee uitblinkers in die top-14 op sport- en kultuurgebied ontvang elk 'n bykomende R5 000-prysgeld van die Kovsie Alumni-trust. Vir die 11 semifinaliste is daar ook erkenning. Hulle ontvang prysgeld van die Kovsie Alumnitrust en beurse van UV Studentewerwing.
Alle inskrywings moet die UV teen Vrydag 2 Augustus bereik. Vir inskryfvorms of verdere inligting, kontak Linda Greyling per e-pos by greylinl@ufs.ac.za of skakel 082 9299 999.


















