Veral matrikulante wat vorige jare se vraestelle uitgewerk het, behoort goeie punte vir Maandag se tweede landbouwetenskappe-vraestel te kry.
Maruschke Venter, 'n landbouwetenskappe-onderwyseres aan die Hoërskool Trio in Kroonstad, sê die soort vrae wat gevra is, is baie soortgelyk aan dié van vorige jare, veral verlede jaar se vraestel.
"Daar was 'n redelike groot klomp punte wat opgemaak kon word net uit die ooreenkomste wat hulle in vorige jare se vraestelle sou vind."
Vraestel 2 handel oor landboubestuur en -genetika en vraestel 1, wat Vrydag geskryf is, oor dierestudies.
"Dit was regtig billik. Daar was nie 'n gedeelte wat ek kan uitsonder wat vir my moeilik of snaaks gevra is nie."
Sy meen die vraestel is goed opgestel.

"Ek dink daar was geen uitsonderlik moeilike vrae nie en ook nie iets wat belaglik maklik was nie," sê Venter.
Volgens haar was daar ook heelwat inligting in die vraestel wat leerlinge kon help in die beantwoording van vraag 3 oor produksiefaktore en -bestuur.
Scott Venter, landbouwetenskappe-onderwyser aan die Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal) in die Vrystaat, is tevrede met albei vraestelle.
Venter sien ook niks "vreemd" in Maandag se vraestel nie en sê dit was op dieselfde vlak as in die rekordeksamen.
Hy sê volgens sy leerlinge was Maandag se vrae baie soortgelyk aan hoe hy sy vrae stel en was dit net hier en daar effens anders gestel.
Sy leerlinge Henco Truter (18) en Francke Fourie (18) sê dit het goed gegaan, maar die vraestel was moeiliker as Vrydag s'n.
Henco, wat volgende jaar landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat gaan studeer, sê vraag 4 oor basiese landbougenetika was vir hom effens moeiliker as die ander vrae.
Hy verwag sowat 80% vir die res van die vraestel, maar glo hy sal 70% vir vraag 4 kry.
In vraag 1, veelkeusevrae, vraag 2 oor landboubemarking- en -bestuur, en vraag 3 het dit beter gegaan.
Henco skryf nog Dinsdag landboutegnologie en Woensdag landboubestuurspraktyke voordat sy eindeksamen verby is.
Francke, wat landbou met grondkunde en agronomie aan die Noordwes-Universiteit gaan studeer, glo hy sal nog in vraestel een 'n onderskeiding behaal, maar nie in Maandag se vraestel nie. Hy verwag sowat 70% vir die vraestel.
Hy sê op sy beurt vraag 2 en 3 was vir hom effens moeiliker en dat hy die lekkerste by die genetika-afdeling geskryf het.
Francke skryf ook Dinsdag landboutegnologie voordat sy skoolloopbaan eindig.




















