"Dis nie ek wat so koel en slim is nie, maar God wat my die gawes gegee het."
So sê Lannice du Plessis (18), wat verlede jaar aan die Hoërskool Fichardtpark gematrikuleer het en onder die top-50-matrikulante in die Vrystaat is.
Sy het in elk van haar agt vakke 'n onderskeiding behaal: Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, rekeningkunde, wiskunde, lewensoriëntering, geskiedenis, biologie en fisiese wetenskappe.
Biologie was haar heel gunstelingvak. "Ek is lief vir biologie en die onderwyser wat dit aangebied het, juffrou Thea du Toit."
Dié vak was so reg in Lannice se kraal, want sy begin haar mediese studies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), iets waaroor sy baie opgewonde is.
Prof. Freek du Plessis, haar pa, is 'n dosent in mediese fisika by die fakulteit gesondheidswetenskappe.
Magda, haar ma, sê: "Ons as ouers is baie trots op haar prestasie. Sy het ongelooflik hard gewerk daarvoor en ons is opgewonde oor haar toekomspad."
Lannice is een van 'n tweeling. Ané, haar suster, het vier onderskeidings behaal en gaan ook aan die UV studeer. Sy mik daarna om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word. Hul jonger suster, Gizela (16), is in dieselfde skool waar die tweeling was.
Vir Lannice is dit baie belangrik om te besef jy het 'n Godgegewe talent.
"Wat ook al jy doen, doen dit met jou hele hart. Ek het 'n baie groot hart vir mense, en dit is waarom ek medies gaan studeer."
Op die vraag oor of sy in Suid-Afrika sal wil bly, sê sy sy sal graag in die Kaap wil bly.
"Vir nou dink ek nie te veel daaraan nie.Soos wat die toekoms ontvou, sal ek sien. Hier is wel geleenthede en regtig slim mense. Mense onderskat die medies in Suid-Afrika."




















