Waar Leila Dürr gaan, gaan haar dienshond Sakura, saam.
Die twee is onafskeidbaar - hulle is saam na Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, saam na die matriekafskeid en nou gaan hulle die arbeidsmag saam betree.
Leila (en Sakura) het ook saam matriek met universiteitsvrystelling geslaag.

Friedreich se ataksie (FA), 'n seldsame, genetiese neuro-degeneratiewe toestand, is in 2016 by Leila gediagnoseer.
"FA takel die senuweestelsel in die ruggraat af en lei tot 'n verlies aan koördinasie (ataksie), 'n verlies aan sensasie in die arms en bene asook erge uitputting en moegheid. Buiten dat bewegings en balans beïnvloed word, laat dié degeneratiewe toestand lyers se spraak en sig mettertyd agteruitgaan," verduidelik Leila. Hipertrofiese kardiomiopatie - wat tipies met FA gepaardgaan - is ook by haar gediagnoseer. Aggressiewe skoliose (sywaartse rugverkromming) kom ook voor en daarom moes Leila twee jaar gelede 'n operasie ondergaan waarin twee titaniumpenne gebruik is om haar rug reguit te maak. Die rugoperasie het die pyn verlig, maar sy het 'n groot mate van onafhanklike beweging ingeboet.
Tog laat Leila nie toe dat haar diagnose haar onderkry nie.
"'n Mens gaan maar agteruit, maar van kleins af het ons gesin 'n besluit geneem om dinge dag vir dag te takel en nie te veel oor die toekoms te peins nie. Ek glo daaraan om die meeste uit elke dag te haal."
Volgens haar is haar gunsteling-aanhaling dat jy jou ten volle moet uitleef.
Sy sê Sakura speel 'n belangrike rol om te verseker dat sy 'n vol lewe kan lei.
"Sakura is die mooiste swart labrador (gekruis met 'n golden retriever) en word op 27 Januarie 2023 vyf jaar oud," sê Leila van haar "beste vriendin".
"Ek het haar net ná my 16de verjaardag gekry. Sy is my dienshond wat my help met alledaagse takies soos om goed van die vloer af op te tel, mense te roep en sy is sommer net die beste medisyne vir eensaamheid."
Terwyl Leila spog met matriek, spog Sakura met 'n erebalkie wat in 2020 aan haar toegeken is. "As erkenning van haar getroue dienslewering aan my."
Sakura was nie net Leila se metgesel na haar matriekafskeid nie, maar ook die inspirasie vir Leila se matriekafskeidrok.
"My ode aan my hond, Sakura, was die kersiebloeiselblommetjies op die bostuk. Sakura beteken kersiebloeisel in Japannees. Die pikswart onderste gedeelte van die rok was om haar pragtige gitswart pels te beklemtoon."
Danksy die rok is Leila as een van die wenners van Rapport se matriekafskeidkompetisie aangewys.

Sakura is ook die inspirasie vir Leila en haar ma, Rina, se onderneming, Sakura Ceramics. Hulle maak juweliersware van keramiek. "R20 van die verkope van elke item word teruggegee aan SA Guide Dogs for the Blind, wat my lewe verander het deur Sakura as companion aan my toe te vertrou."
Leila en Sakura hoop om die arbeidsmag vanjaar amptelik te betree. "Ek het moontlik reeds 'n werk in die sosialemedia-bemarkingsbedryf en is baie opgewonde daaroor." Leila beplan om aanlyn kursusse in digitale bemarking te voltooi.
Dit is duidelik dat haar gesondheid nie 'n demper op haar veggees plaas nie en sy het raad vir ander jongmense met gesondheidsprobleme of gestremdhede.
"Probeer so positief as moontlik bly, en as jou uitdagings jou onderkry, onthou net wie jy het, en wat jy in jou het waarvoor jy dankbaar kan wees. Lei jou lewe asof jy nie gesondheidsprobleme het nie."
Leila het 'n groot liefde vir musiek en een van die hoogtepunte in haar lewe was toe sy die Amerikaanse popster Ed Sheeran in 2019 ontmoet het. Dit is moontlik gemaak danksy Reik na 'n Droom en Jacaranda FM se Good Morning Angels.
"Ek het Ed Sheeran ontmoet en 'n drukkie gegee in 2019 en dit was ongelooflik. Dit was 'n onvergeetlike ervaring! Musiek en boeke is my manier om van die realiteit te ontsnap."














