Matrieks

Lisa verbaas oor haar eie skryftalent

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Slimkop van Hoërskool Waterkloof was verlede jaar een van die wenners van Beeld se kreatiewe skryfkompetisie.

"Ek skryf om my kreatiwiteit uit te leef en dit laat my van die daaglikse, soms eentonige, bestaan ontsnap. Om in ons mooi beskrywende taal te kan skryf, help my om my gedagtes en gevoelens te organiseer en te verwoord," sê Lisa van der Merwe.

Lisa van der Merwe
Lisa van der Merwe

Omdat sy nie gereeld skryf nie, was dit vir haar 'n groot verrassing om die kreatiewe skryfkompetisie te wen

"Dit was nogal 'n skok, maar ek is baie bly en dankbaar," sê sy.

"Ek skryf nie gereeld nie, maar wanneer ek skryf voel ek ontspanne."

Lisa sê probleme in die samelewing en die natuur se skoonheid dien vir haar as inspirasie wanneer sy wel skryf.

Haar wen-opstel was beskrywend van aard en getiteld "Judas in Johannesburg". Haar opstel versinnebeeld die gejaagde stadslewe en die soeke na finansiële welvaart en hoe die gejaag soms in 'n doodloopstraat eindig.

"Ek was ook eens deel van die lewe oorkant die pad. Ja, ek het daardie wêreld aan my voete gehad. Sukses was my middelnaam. My lewe was vol kleur en klank. Helder en hard. Só anders as nou.

"Elke dag het ek siele op die leer na sukses vertrap. Mense gebreek. Aand ná aand het die geklingel van kristal om my opgeklink. Ek het my met die beeldskones en belangrikes omring. Ek het gedans, gelag, geleef … Aan vriende was daar nooit 'n tekort nie. Milde sonskyndae op goue strande, langs asuurblou oseane was vir my die alledaagse.

"Ek was Mammon. Die god van geld. My koninkryk gebou op vernietiging, verloëning, verraad…

"Ek het my siel vir 30 stukke silwer verkoop. Judas in Johannesburg," skryf Lisa.

Dié kreatiewe skrywer het met sewe onderskeidings geslaag en gaan vanjaar bestralingswetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat studeer.

Lisa het onderskeidings in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, ingenieursgrafika en - ontwerp en fisiese wetenskappe behaal.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM