Lee-Hanke Tarentaal (18) van die Strand het 'n moeilike paar jaar agter die rug.
Haar ouers se egskeiding in haar gr. 4-jaar het 'n groot impak op haar gehad. En sy moes ook die verlies van albei haar oupas verwerk.
"Dit was baie moeilik vir my.
"Ek het 'n ruk lank rebels gereageer. Ek was kwaad vir my ma, want sy het aanbeweeg en my pa het nie destyds nie," vertel Lee-Hanke, 'n matriekleerling aan die Hoërskool Gordon in Somerset-Wes.
"My skoolwerk het ook daaronder gely en ek het amper graad 5 gedruip.
"My punte was oor die afgelope paar jaar nie so goed nie, totdat my ma voorverlede jaar met my gesels het. Ek het harder begin werk en het gesien dat as ek hard werk, kán ek bo my omstandighede uitstyg."
Lee-Hanke se ma is sowat vyf jaar gelede weer getroud en hul gesin het vir 'n tyd by 'n ander gesin op dié se erf gewoon, wat 'n moeilike tyd vir Lee-Hanke was.
"Vanjaar het ons uiteindelik in 'n nuwe huis ingetrek, wat dinge verbeter het, hoewel die situasie steeds nie ideaal is nie. Maar ek kom goed oor die weg met my stiefpa en sy kinders, al stem ons nie altyd ooreen oor sekere dinge nie. Hulle het ook 'n moeilike tyd beleef," sê sy.
Volgens Lee-Hanke was haar matriekjaar baie stresvol.
"Daar was soveel druk op ons met al die skoolwerk en om te presteer. Dan was daar ook die universiteitsaansoeke en beursaansoek. Dit was baie oorweldigend.
"My pa het my ook baie gemotiveer die jaar," voeg sy by.
Ten spyte van die uitdagings het Lee-Hanke matriek geslaag en is deur die Universiteit Stellenbosch vir bewaringsekologie aanvaar. Sy het matriek met toelating tot graadstudies geslaag.
"Dit was nie my eerste keuse nie, maar ek gaan dit vir drie jaar studeer en dan verder spesialiseer in klimatologie," verduidelik sy.
"Ek het 'n passie vir bome en die natuur - dit is hier waar ek kan vrede vind. Ek wil ook baie graag die aarde help red waar ek kan."



















