Matrieks

Matrieks begin eksamen met Engels, vrae nie te uitdagend

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die matriekeksamen in die Wes-Kaap het goed begin, het David Maynier, LUR vir onderwys, Maandag gesê.

"Daar was geen probleme terwyl die nagenoeg 67 000 kandidate Engels vraestel 1 gedurende die oggendsessie geskryf het nie.

Leerlinge van die Hoërskool Tygerberg in Kaapstad begin Maandag met hul matriekeindeksamen.  Foto: Jaco Marais
Leerlinge van die Hoërskool Tygerberg in Kaapstad begin Maandag met hul matriekeindeksamen. Foto: Jaco Marais

"Geen ontwrigting is aangemeld nie, en ons is bly dat die publiek gehoor gegee het aan ons oproep om ons matrieks die volgende paar weke die BBP's van ons provinsie te maak. Ons hoop hierdie positiewe begin gee die toon aan vir die hele eksamen.

"Ek wens al ons matrieks, onderwysers, skole en amptenare die beste toe vir die res van die eksamen."

Myrtle Kreuiter, vakhoof van Engels by die Hoërskool Swartland, meen die huistaal-vraestel was billik, hoewel daar sekere veranderinge aangebring is.

"Daar was heelwat meer vrae vir leerlinge om te beantwoord by die visuele teks, 'n advertensie oor e-boeke. 'n Leerling wat sukkel met langer tekste sou daarby baatvind. Die artikel is gewoonlik sowat 12 paragrawe lank, maar dit was vanjaar net agt paragrawe. Dit het hulle waarskynlik tyd gespaar.

"Ek glo enige onderwyser wat die riglyne gevolg het, behoort tevrede te wees met die vraestel. Die skryftyd is gewoonlik knap vir huistaal," sê sy.

'n Onderwyser by 'n skool in Pretoria verbonde aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) verskil egter van Kreuiter.

Die vyfde vraag in die vraestel van Engels eerste addisionele taal. Foto: Verskaf
Die vyfde vraag in die vraestel van Engels eerste addisionele taal. Foto: Verskaf

"Die vraestel was ietwat aan die moeiliker kant en kon as onbillik beskou word deur sommige leerlinge. Daar was 'n gevoel dat sommige van die vrae oorgekompliseerd was, wat dit moeilik maak vir leerlinge om hul kennis effektief te demonstreer," sê die onderwyser, wat nie geïdentifiseer wil word nie.

"Daar was meer as genoeg tyd om die vraestel te voltooi, wat 'n positiewe aspek was."

Matrieks het ook Engels eerste addisionele taal geskryf. Bianka Prinsloo, departementshoof van Engels by die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, sê die vraestel vir Engels eerste addisionele taal was baie regverdig. Dit het uit verskillende temas pleks van 'n deurlopende tema bestaan.

"Dis iets wat ons die afgelope paar jaar al hoe meer sien en iets waaraan die kinders maar gewoond moet raak. Wanneer dit nie een deurlopende tema het nie, moet die leerling elke keer stop en dink oor wat van hom of haar in daardie afdeling verwag word," sê sy.

In die eerste afdeling het die een teks oor kits-modeneigings gehandel, terwyl 'n ander oor waterverbruik in die land se provinsies gegaan het.

Hoewel dit toelaatbaar is, meen Prinsloo dis ongewoon dat selfs die tekste in een afdeling oor afsonderlike temas handel.

Volgens haar het die begripstoets vereis dat die leerlinge mooi moet lees. Die vrae was nie noodwendig moeilik nie, sommige was net lank en moes ontleed word, sê Prinsloo.

"Ons leer egter die leerlinge hoe om vrae te ontleed juis sodat hulle vrae wat baie inligting bevat, kan verstaan," sê sy.

By die taalafdeling sê Prinsloo die leerlinge sou mooi moes soek om die foute in die sinne te identifiseer soos van hulle verwag is, maar dat dit nie iets vreemds is nie.

Leerlinge kon ook moontlik verras gewees het omdat hulle gevra is om 'n sin in die bedrywende vorm te herskryf pleks van die lydende vorm, sê sy.

Ané van Zyl en Inge du Plessis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM