
Die eerste eindeksamenvraestel was "taamlik maklik" en het matrikulante gerusgestel oor die res van die eindeksamen.
Só het 'n groep van tien matrikulante van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp gesê nadat hulle Engels eerste addisionele taal Maandag geskryf het.

Kayla Alexander (18), die hoofmeisie, sê dié vraestel was vir haar lekkerder om te skryf as die een in die rekordeksamen. "Die vrae is meer direk gevra as in die rekordeksamen. Toe moes jy dink ‘oukei, wat soek hulle'," sê sy.
Corrine-Marie van Hoogdalem (18) sê sy voel nou rustiger nadat die vraestel verby is en dit nie so erg was nie.
Die matrikulante redeneer egter onder mekaar oor wat die regte antwoord was vir vraag 5.2.5 wat gehandel het oor die versamelnaam vir spinasie. Sommige het hier opsie A (bunch of spinach) gekies, terwyl ander opsie B (bundle of spinach) gekies het.
Vir nou beplan die meeste van die matrikulante om vir die komende vraestelle voor te berei deur vorige vraestelle deur te werk.
Olivia Strydom (18), onderhoofmeisie, sê sy beplan ook om die ekstra klasse wat die skool aanbied, by te woon.
Sy en Megan Armstrong (18) meen albei dat dit ook baie belangrik is om die werk te verstaan.

"Dit maak nie saak hoeveel vraestelle jy deurwerk nie, jy moet (jou kennis) kan toepas op die vraag," sê Armstrong.
Eduan Liebenberg, onderhoofseun, sê hoewel wiskunde se komende vraestel twee vir hom "riller" is, beplan hy om die Boss-leermetode van juffrou Annemarie de Jager, adjunkhoof van akademie, toe te pas: Boude op die stoel sonder selfoon.
Van die ander vakke waaroor die groep matrikulante ook bietjie meer stres, is lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.




















