Hoewel jou eindeksamen baie belangrik is, moet jy ook 'n blaaskans tussendeur neem. Van 2023 se toppresteerders deel hoe hulle tyd gemaak het om te ontspan.
Adriaan de Villiers (18), die Hoër Jongenskool Paarl. Adriaan gaan vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer. “Elke dag het ek tyd uitgesit vir een of ander sosiale aktiwiteit, soos om koffie êrens saam met vriende te gaan geniet, ongeag hoe moeilik die volgende dag se vakinhoud was. Dié bietjie lekker elke dag gee jou ’n soort energie om die moeilike studietye aan te pak. Tydens die voorbereidingseksamen sowel as die eindeksamen het ek elke dag maar hard gewerk, maar Vrydae het ek ’n punt daarvan gemaak om nie aan ’n boek te raak nie en net tyd te maak vir vriende of enige ander aktiwiteite wat nie akademies verwant is nie. Ek het in die September-vakansie heeltemal ontspan. Sonder dié blaaskans sou my eindeksamen baie meer uitputtend gewees het. Ek het ook vroeg gaan slaap, voor 22:00, en eerder soggens vroeg opgestaan om verder te leer as om laat aande te leer.” Rashaan Jacobs (18), die Pionierskool vir Siggestremdes. Roshaan gaan vanjaar LLB (Regte) by die Universiteit van Kaapstad studeer. “Ek het baie TV-reekse gekyk om te ontspan. Maar dit sou soos een of twee episodes wees as ’n bederf vir myself. Ek het ook na oudioboeke geluister en gedigte geskryf. Die handhawing van balans hang baie van jouself af en ek het geluister na my liggaam en ook omgesien na my geestesgesondheid. Ek het klein oorwinnings wat ek deur die dag behaal het, gevier. Vir my het roosters gewerk en ek het gekyk na die vakke waarin ek goed en minder goed was en dit daarvolgens opgestel. Ek het die vakke waarmee ek gesukkel het, geprioritiseer en ’n bietjie meer aandag daaraan geskenk. My selfoon se fokus-funksie het my ook gehelp omdat dit vir my aangedui het hoe lank ek moet werk en wanneer dit tyd is vir ’n breek.