Matrieks

Matrieks kry dán NSS-uitslae

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Matrikulante wat vanjaar die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen afgelê het, sal landwyd op 19 Januarie weet hoe hulle gevaar het, sê Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal die nasionale matriekuitslae soos gebruiklik 'n dag voor die tyd bekend maak. Kandidate se individuele punte is dan op Vrydag 19 Januarie beskikbaar.

Makalo MohaleFoto: Facebook/MEC Makalo Mohale
Makalo MohaleFoto: Facebook/MEC Makalo Mohale

Makalo Mohale, Vrystaatse LUR vir onderwys, sal die provinsiale uitslae ook op daardie Vrydag op die provinsie se gelukwensingsgeleentheid op die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se Bloemfontein-kampus bekend maak.

Die toppresteerders in die Vrystaat word op dié funksie vereer.

Die nasionale eindeksamen is Woensdag amptelik afgehandel nadat dit op 30 Oktober begin het. Die meeste van die matrikulante het Vrydag reeds klaargemaak.

Volgens Ndaba het die merk van die antwoordstelle Donderdag landwyd begin en sal dit tot 20 Desember duur.

Hy sê die Vrystaatse onderwysdepartement is in sy skik met die "gladde verloop" van die eksamen in die provinsie.

"Die departement wil alle amptenare en belanghebbendes bedank vir die suksesvolle wyse waarop die uitvoering, administrasie en bestuur van die eksamen in die provinsie behartig is."

Volgens hom is Mohale en adv. Tsoarelo Malakoane, departementshoof, in die algemeen ingenome dat die matrieks vir die duur van die eksamen met integriteit opgetree het.

Soos Motshekga het Mohale 'n beroep op matrieks gedoen om verantwoordelik op te tree wanneer hulle die einde van hul skoolloopbaan vier. Mohale het matrikulante afgeraai om na ná-matriekpartytjies te gaan en gevra dat hulle die einde van dié era op 'n "positiewe" manier saam met familie en vriende vier.

Die LUR het leerlinge ook aangemoedig om hul skoolklere aan behoeftige skoliere te skenk.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM