Die letterkunde-vraestel wat matrieks Donderdag geskryf het, was nie te erg nie, maar van die Hoërskool Zwartkop in Centurion se leerlinge wonder waarom hulle op plekke so baie moes skryf vir vrae wat min punte getel het.
Dié tweede Afrikaans-vraestel het bestaan uit drie afdelings: gedigte, roman en drama.

By gedigte moes hulle enige twee vrae beantwoord oor "Wie's Hy" van Adam Small, " 'n brief van hulle vakansie" deur Breyten Breytenbach, "besoekersboek" van Fanie Olivier of "Twee kleuters in die Vondelpark" deur Elisabeth Eybers.
Die "ongesiene" gedig, "Ek skryf", deur die joernalis Pieter-Louis Myburgh, was verpligtend.
By die roman kon hulle weer kies tussen Die kwart-voor-sewe-lelie van Eleanor Baker, Manaka plek van die horings deur Pieter Pieterse, Vatmaar van A.H.M. Scholtz en Onderwêreld van Fanie Viljoen.
Hulle kon by die laaste afdeling kies tussen twee dramas, Krismis van Map Jacobs deur Adam Small en Mis van Reza de Wet.

Tiaan Frylinck (18) sê hy het by 'n paar vrae "opstelle" in antwoord daarop geskryf.
Anja Reyneke sê sy het baie lekker geskryf, maar byna twee antwoordboeke vol geskryf.
"Ek het baie lank geskryf. Alles wat ek weet. Dit was beslis die min slaap werd."
Carla Hugo het gehou van die vrae oor Onderwêreld.
Hugo, wat volgende jaar drama aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, sê dit was "só relatable".
"Ons moes die ander kant verduidelik."
Sy en van die ander matrieks het ook van die "ongesiene" gedig gehou.
Zak Barnard het byna dié gedig gemis en gelukkig sy byna-fout raakgesien en die vrae oor die gedig beantwoord.
Landè Engelbrecht sê dit was 'n lekker toets.
Sy het veral lekker geskryf danksy haar onderwysers wat haar so goed voorberei het.

Tasha Jacobs het die vraestel as "heel doenbaar" bestempel.
"Jy moes net die tyd mooi dophou. Tydbestuur was baie belangrik, maar dit was 'n baie lekker vraestel."
CJ Oberholser was aangenaam verras deur die vraestel, omdat dit volgens hom baie ooreengestem het met dié van die rekordeksamen.




















