Matrieks

Matrieks verlig skoolwiskunde is nou verby

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Matrieks van die Hoërskool Linden in Johannesburg het Maandagoggend kopgekrap oor van die trigonometrie- en ander vrae in die tweede wiskundevraestel, maar is verlig dat skoolwiskunde nou iets van die verlede is.

"Die heel laaste twee vrae by vraag 10 was vir my die moeilikste en my tyd was 'n bietjie min om volledig te kon antwoord, maar verder was dit baie lekker," sê Euané Theart, die hoofmeisie.

Euané Theart, hoofmeisie van die Hoërskool Linden. Foto: Inge du Plessis
Euané Theart, hoofmeisie van die Hoërskool Linden. Foto: Inge du Plessis

Vir Francois van Zyl was dié twee vrae ook uitdagend.

"Die vraestel was vir my 'n bietjie moeiliker as vraestel een," sê hy, maar is positief omdat hy die werk in die Junie- en rekordeksamen geoefen het.

Netwerk24 het vroeër berig dat sommige matrikulante naels gekou het oor die tweede wiskundevraestel.

Xander Jacobs, die hoofseun, erken dié vraestel is sy swakpunt.

"Daar was party vrae waar ek goed reggekom het of heeltemal van die bus afgeval het."

Hoewel die standaard van die vraestel vir hom soortgelyk aan dié van die rekordeksamenvraestel was, het hy uit sy foute in die rekordeksamen geleer.

Ian van Heerden (links) en Francois van Zyl, onderhoofseuns van die Hoërskool Linden. Foto: Inge du Plessis
Ian van Heerden (links) en Francois van Zyl, onderhoofseuns van die Hoërskool Linden. Foto: Inge du Plessis

Jarik Engelbrecht meen die eindeksamenvraestel was aansienlik makliker en het beaam hy kon Maandag sy foute in die rekordeksamen regstel.

"Ek het 'n bietjie swak gevaar in vraestel twee tydens die rekordeksamen, maar dié een was beter," sê hy.

Ian van Heerden sê hy was redelik bekommerd dat die drie uur wat hulle gehad het om die vraestel af te lê, nie genoeg gaan wees nie, maar hy het betyds klaargekry.

"Jy het met die meeste van die vrae 'n goeie idee gehad wat om te doen deur net die vraag te lees," sê hy.

Jarik Engelbrecht (links), onderhoofseun, en Xander Jacobs, hoofseun van die Hoërskool Linden. Foto: Inge du Plessis
Jarik Engelbrecht (links), onderhoofseun, en Xander Jacobs, hoofseun van die Hoërskool Linden. Foto: Inge du Plessis

Ander matrikulante het ook aangedui dat hulle nie die laaste twee vrae van die vraestel kon voltooi nie.

Liné Keet het die tweede vraestel in wiskundige geletterdheid as "lekker en baie redelik" beskryf.

Sy voel beter oor Maandag se vraestel as die rekordeksamen s'n omdat sy 'n bietjie beter voorberei het.

"Maar dit was dieselfde, nie makliker of moeiliker nie." Liné sê hoewel sommige van die vrae 'n bietjie meer dinkwerk vereis het, het sy net haar tyd gevat om dit te beantwoord.

"Daar was genoeg tyd," sê sy.

Liné Keet blaai deur die tweede vraestel in wiskundige geletterdheid. Foto: Inge du Plessis
Liné Keet blaai deur die tweede vraestel in wiskundige geletterdheid. Foto: Inge du Plessis
Inge du Plessis

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM